Väinämöinen
Sång
Tomas Tranströmer
Den vita skaran växte: måsar trutar
i dräkt av segelduk från döda skepp
men fläckad av förbjudna kusters rökar.
Lied
Die wit skare groei aan: seemeeue
geklee in die seildoek van dooie skepe
maar besoedel deur die rook van verbode kuste.
Skel gille rondom die afval van ’n skuit!
Dig op mekaar vorm hulle ’n vlagsein
wat sê: “Hier is buit”.
En die meeue stuur oor die watervlaktes
met bloutes wat weggly in skuim.
Dwars oor trek ’n fosforpad son toe.
Maar in sy verlede het Väinämöinen gereis
oor die wye glinsterende see van vergane lig.
Hy ry. Die perd se hoewe bly droog.
En agter hom: die woud groen van sy sang.
Met ’n eik in sy duisendjarige sprong.
Die groot meul aangedryf deur voëlgesang.
En elke boom gevang in sy eie geruis.
Met groot dennekeëls glimmend in die maanlig
terwyl die den ver buite verlig raak soos ’n vuurtoring.
Dan staan die Ander op met sy towerspreuk
en vlieg die pyl met oopgesperde oë
die lente in soos ’n voëlvlug.
In ’n dooie sekonde waarin die perd skielik verstyf
en begin galop oor die waterlyn soos
’n blou wolk onder weerlig se voelhoring.
En Väinämöinen stort swaar in die see
(’n brandseil oor windstreke gespan).
Paniek onder die meeue oor die val!
Net soos iemand wat sonder angs
betowerd staan in sy lewensgetroue skildery
neerbuigend met elf koringgerwe.
Die vertroude alpepiek neurie in die ruimte
drie duisend meter hoog seil die wolke
agter mekaar. Die enorme baskhaai swenk
geluidloos skaterend onder die seewater.
(Dood en hergeboorte soos die golf naderkom.)
En die wind ry vredig op sy fiets deur die struike.
Dan dreun donderweer dof op die horison
(soos ’n stormende buffeltrop in hulle stofwolk).
In die boom word ’n skadu-vuis gebal
en nou stort hy neer wat daar betowerd staan
in die middel van sy verrukte beeld waar die aandhemel
gloei agter die wildevarkmasker van die wolke.
Sy dubbelganger het afgunstig geword
en maak in die geheim ’n afspraak met sy vrou.
En die skadu trek saam en word ’n vloedgolf.
’n Donker vloedgolf waarop meeue ry.
En die branding skuim in die hawehart,
dood en hergeboorte soos die golf naderkom.
Die wit skare groei aan: seemeeue
geklee in die seildoek van dooie skepe
maar besoedel deur die rook van verbode kuste.
Haringmeeu: ’n harpoen met ’n fluweelrug.
Nader gesien ’n romp onder sneeu
met verborge polsslag in flikkerende maatslag.
Sy vliegsenuwees in balans. Hy sweef.
Hy droom voetloos, hangende in die wind
sy jagtersdroom met die skerp skoot van die snawel.
Hy sak gulsig af na die watervlak
en draai soos ’n kous om die prooi
met ’n paar plukke. En styg weer op soos ’n gees.
(Vernuwing is die samehang van kragte
raaiselagtiger as die paling se omswerwinge.
Onsigbare boom vol bloeisels. Net so.
’n grys seeleeu in sy onderwaterslaap
styg op na die oppervlak, haal asem
en duik – nog steeds slapend – terug na die bodem
so het die Sluimeraar in my hom heimlik
verenig met dat en teruggekom
terwyl ek staan en kyk na iets anders.)
En die dieselenjin pols in die swerm
verby die donker inham, die voëlnes
waar honger blom met oopgesperde bek.
En met die aankoms van die donkerte hoor mens:
afgebroke stukkies musiek uit die orkesput
voor die orkes begin speel.
Maar op sy oersee dryf Väinämöinen
geskud in die ruwe handskoen van die uitgestrekte see
in die stilte van die spieëlwêreld waar die voëls
vergroot word. En uit die saaddop, ver
van die land, groeiende uit die see
uit ’n misbank, skiet hy boontoe:
’n geweldige boom met skubberig stam en en blare
heeltemal deursigtig, en daaragter
gly die die wit gevulde seile
van beswymde sonne voort. En daar styg die arend op.
(Uit Sweeds vertaal deur De Waal Venter, 21.05.26)
AANTEKENING:
Hierdie gedig van Tranströmer is geïnspireer deur die Finse epiese gedig, die “Kalevala”. Tranströmer het die volgende kommentaar gelewer aan die einde van sy gedig:
KOMMENTAR:
Det mystika inslaget kommer från Kalevalas sjätte sång.
(Die mistieke inslag kom uit die sesde Kalevalas lied).
Die Kalevala is ’n negentiende eeuse epiese gedig wat die navoser Elias Lönnrot saamgestel het uit Kareliaanse en Finse orale volkslegendes en mitologie. Dit vertel die verhaal van die Skepping van die Aarde. Dit beskryf die reise en stryd van verskeie volkere uit die verre verlede, asook die diefstal van die mitiese masjien, Sampo, wat veronderstel was om welvaart te kon skep.
Baie dele van die verhale bevat ’n karakter wat soek na lirieke (liedere en towerspreuke) om een of ander vaardigheid te bekom, soos om ’n boot te bou, of om met ysterware te werk. Die verhale bevat beskrywings van towerpraktyke en sang. Ander weer handel oor hartstog, romanse, ontvoering en verleiding. Die protagoniste in die verhale moet dikwels take verrig wat onredelik en feitlik onmoontlik is en wat hulle dikwels nie regkry nie – dit lei dan tot tragedie en vernedering.
Väinämöinen is ‘n halfgod, held en die sentrale karakter in die Finse folklore en die hoofkarakter in die nasionale epos Kalevala deur Elias Lönnrot. Väinämöinen word beskryf as ‘n ou en wyse man, en hy besit ‘n kragtige, magiese sangstem.
Bron: Wikipedia