Don Fausto neem afskeid
24 Junie 2012
jy’t my uitoorlê Ou Grote
ek sou eers oor twee jaar aftree
maar jy het my voorgespring
en ons bondgenootskap verbreek
’n lang pad het ons saamgestap
(dit vul my met heimwee)
vandat ons op Pinta ontmoet het
ons het mekaar verstaan
sonder veel gepraat by die watergat
anders as daai flambojante Diego
het jy geen nasaat al was daar vele kanse
hulle sê jy is die raarste wese op aarde
(die eensaamste die afgematste)
die enigste van sy soort
jy’t al drinkplek se kant toe gemik
toe ek vanoggend by jou aankom
ons het nog altyd na mekaar omgesien
moes tog wis dit sou gebeur
die een of ander tyd
(vervloekte mensdom)
ek was verdrietig verslae
dis die vleisvreters se skuld
die matrose walvisjagters prisoniers
dié wat die balhorige bokke ingevoer het
en Charles wat meegedoen en opgeskryf
en glo vir Harriet ontvoer het
(vreet roof seëvier)
ons almal is skuldig Jorge
ek hoor hulle gaan jou nou opstop
met jou oumensnek boontoe uitgestrek
soos wanneer jy my aankyk etenstye
onder die afdak van jou karapaks uit
as jy met mening weglê aan wat ek aandra
(ek sal die hek langsaam moet toetrek)
nie soos jou laaglê vanmôre nie
net jou naam
El Solitario Jorge my ou maat
en ek bly oor
by jou kampie
op Santa Cruz-eiland
(met uitwissing as nabaat)
eenling is die mens gebore
©Ronel de Goede, 2021