Katarina Frostenson. Vertaling van Sweeds in Afrikaans. Vert. deur De Waal Venter.

’n Toneel
Watter wonderlike stukkie paradysaarde is dit nie
anders gesê, vlinders fladder asof in ’n godetuin
’n geel vlaag oor die weiveld
wat platgetrek word
skoenleer uit die grond se humus
‘n toon
bars uit swart papier
’n dansskoen, ’n vinger
uit die grond
en glinsterende kringe
uit die donker rotse, nat wol
kleed
toegedraai met monde teen die humus en mekaar
vol van die aarde en die rooi
op pad huis toe tussen die struike, veld en ’n voël se skerp waarskuwing
lê jy daar in die veld op wêreldvelde se donker wortels
*
Bild
Katarina Frostenson
vad är det för underlig paradistrakt
eller motsatsen fjärilns fladder, elyseiskt
gula de stelnat över ängarna
de ligga tungt utkastade
skons läder ur jordens mull
en tå
Katarina Frostenson is in 1953 in Swede gebore. Sy word as een van Swede se mees vooraanstaande digters beskou en het meer as twaalf digbundels die lig laat sien. Haar werk word veral in Duits en Frans vertaal. Frostenson het van 1992 tot 2019 in die Sweedse Akademie (die liggaam wat die Nobelpryse toeken) gedien. Sy het bedank oor die skandaal wat haar man, die Franse fotograaf, Jean-Claude Arnault, destyds veroorsaak het toe hy tot tronkstraf gevonnis is weens seksoortredinge.
Katarina Frostenson se styl word beskryf as “eksperimenteel en tegelykertyd argaïes”. Verdere kenmerke van haar oeuvre is beskryf as ’n tipe vroue-literatuur wat enige vorm van konvensie of tradisie vermy. Dit slaan heeltemal ’n nuwe rigting in. Selfs die tipografie van haar gedigte toon dit wanneer daar soms leë ruimtes in voorkom sonder om, soos meer bekende poësie, visuele indrukke te versterk.
In haar gedigte word woorde nie aaneengeskakel in volsinne nie en ook nie in spesifieke semantiese kontekste nie, maar word eerder verbind volgens hulle fonetiese en materiële aspekte. Pouses in ritme en plasing van woorde skep dissonansie afgewissel met harmonie.
As mens ’n analise van die gedig “’n Toneel” wil maak, vind jy dat ’n tradisionele benadering tot poësie jou heeltemal in die steek laat. Logiese analise het geen vatplek op die gedig nie en mens se begrip daarvan raak nog meer verward.
Waarskynlik die beste benadering om toegang tot die gedig te kry, is om jou in te dink in die digter se denkproses en saam met haar, sonder die raamwerke en reëls van die konvensionele, die gedig op ’n manier liggaamlik (viscerally) te ervaar en jou daardeur te laat lei tot dít wat ongesê in die gedig gesê word. Gaan lê, figuurlik gesproke, op jou rug teen ’n boom se wortels en sluimer effens in. Moet net nie skrik as jy à la Oom Schalk Lourens se ervaring skielik die luiperd by jou voete sien wat jou stip dophou nie.
(De Waal Venter)
