Asindeton
Wat laat ek nie alles weg
in hierdie beproewende tyd?
Laat alles val wat lieg en wieraad was?
‘n Boodskapper op straat se meededeling
Haai-het-jy-gehoor-Schalk is dood?
(terloops) onvanpas on-medelydend.
Ons-is-almal-so-geskok dit was nie reg …
‘n Taxibestuurder wagtend buite om my te transporteer
terug na my bed vol onrus, onsekerheid en diskonneksies,
na ‘n solo-aand in die Oog-van-die-storm.
My kamerjas hang moedeloos oor die deur
nes ‘n ou bokser uitgetel in die kryt.
‘n Rotteplaag beset die woonstelblok
op soek na kos in hul plundertog.
Die buurvrou se pype het ‘n lekkasie;
bekommerd oor die effek op haar waardasie.
Meedoënloos oorrompel hierdie gedig
my nes ‘n mens dalk ‘n brand stig?
Onsamehangende beelde verloën
hierdie vers in kognitiewe dissonansie
bykans aangekom dalk onloënbaar?
© Joan Hambidge, 2021
