Pieter Fourie: Die digter wat my ’n job gekos het
Die veelbekroonde dramaturg Pieter Fourie het op 77-jarige ouderdom as digter gedebuteer. Die bundel met die titel Knapsekêrels bevat gedigte wat soos klitsgras aan ’n mens bly klou. Hier is een, met die titel “stroois”, wat toon watter meester Fourie van die kriptiese vers is:
in huisie wit
skraalloop klein
het lamp nog pit
gesels nog grein
buite skink
skotvers bies
wit heuning
uit die lies
Fourie roep ’n bykans vervloë landelike wêreld in sy gedigte op – hoewel dit nie altyd so idillies daaraan toegaan soos in hierdie klein kamee nie.
Hy gebruik ook woorde wat al grotendeels uit die volksmond verdwyn het, en daarom bevat die bundel ’n verklarende woordelys. Daarin word “skraalloop” en “skotvers” verduidelik. “Skraalloop” gebeur wanneer jy “maag intrek en penorent loop in ’n beknopte vertrekkie”, en ’n “skotvers” is “’n jong (opgeskote) vers wat die eerste keer gemelk word”. Siedaar die digter self: ’n vers wat die eerste keer gemelk word! En sy verse is niks anders nie as “wit heuning uit die lies”.
Een van my gunstelinge, “tortel”, kom uit die afdeling voëlgedigte. Hier word die digter met die dramaturg versoen:
opgepof
pronk hy
hop-hop
agter haar
bly jag
bo-op
boggelruggie
paar
grinnik
richard III
in koninklike drag
Fourie en sy vrou, Maletta, aan wie hy die bundel opgedra het, woon deesdae [2017] op Onrus. Hy beskryf homself soos volg in die bekendstellingsvers voorin die bundel:
in onrus sit ’n oompie
mymer: “my dae verdwyn
soos kwartels in lang gras”
besin
ryg string na string
woordkrale in
Die aanhaling kom uit D.J. Opperman se bekende gedig “Vakansiebrief”. Die Oppermanreëls gaan inderwaarheid só: “my dae verdwyn / in stiltes soos kwartels in lang gras”. Fourie oorwin met Knapsekêrels inderwaarheid ’n jarelange digterlike stilte. Hy het gedurende die 1960’s gedigte in literêre tydskrifte gepubliseer en was ook ’n student in D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium op Stellenbosch.
Daarom is dit soveel skrynender dat die laaste afdeling, getitel “stilte”, gedigte bevat waarin die dood seëvier. Bondiger en klankryker kan dit nie gesê word as in “graf” nie:
nommerpas
letterkraag
marmerjas
perdalks
kleikalbas
kraaktraag
beenmeelas
In die allerlaaste gedig, “uittogfluit”, gaan die digter die “klokhelder stilte” tegemoet.
Maar daar is ook talle uitbundige gedigte, veral in die afdeling “goljaartjie” – wat volgens die woordelys ’n streekswoord vir ’n bokjol of joligheid is. En dit is sinoniem aan “goggatik”, ’n dansparty of opskop. Die lang gedig “plaasskuurdans” is ’n wonderlike eweknie vir Pikkedel se “op Hartebeesfontein” van 1898. En sulke vrolikheid gaan altyd gepaard met drank wat vrylik vloei. In die plesierige vers “dors” word wyn onvergeetlik beskryf as “giskind van die korrel”!
Fourie het al vroeër – eintlik al ’n leeftyd gelede – probeer om ’n digbundel gepubliseer te kry. En by daardie geleentheid was ek ’n onbedoelde slagoffer.
Die storie gaan soos volg. Aan die einde van my diensplig doen ek in 1978 aansoek vir ’n paar geadverteerde poste in Pretoria waar ek twee jaar lank in uniform rondgeloop het. Een daarvan is ’n redakteurspos by Daan Retief Uitgewers.
Vol verwagting daag ek by die onderhoud op. Die destydse bestuurder sit ’n manuskrip gedigte voor my neer en vra of ek so iets sou publiseer as ek die werk kry. “Wie is die digter?” vra ek. “Pieter Fourie,” kom die antwoord. Hy het toe al reeds opslae in die teaterwêreld gemaak met Faan se trein en Faan se stasie, en sonder om te huiwer sê ek: “Natuurlik!”
En net daar is die onderhoud afgeloop.
Nee, kry ek te hore, Daan Retief is nie ’n literêre uitgewery nie. My smaak, verstaan ek by implikasie, is te elitisties vir dié produsent van kinderboeke en liefdesverhale.
My lewe het sedertdien baie draaie gegooi, maar altyd binne sig van uitgewerye. Daarom het ek, veertig jaar ná die Daan Retief-debakel, onmiddellik ja gesê toe Johan Coetzee van Naledi my vra om Knapsekêrels persklaar te maak. Met byna sardoniese plesier het ek die redigeerwerk aan die manuskrip gedoen. Op ’n manier het ek tog daardie job by Daan Retief gekry.
En ek is bowenal bly ek kon uiteindelik ’n bewys lewer van my geloof in die digter Pieter Fourie.
Rapport, 7 Mei 2017
Naskrif
Pieter het Knapsekêrels (2017) met nog twee digbundels opgevolg: Bidsnoer (2018) en Stof en ster (2019). Bidsnoer was in 2019 op die kortlys van die UJ-pryse.
Hierdie bundels van Pieter wat toe tog deur Daniel se hande gegaan het is ‘n kosbare skat in Afrikaans. Pieter was ‘n groot gees.