Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
13 September 2021

Joan Hambidge. Die digkuns as klokhelder stilte

 

 

 

Pieter Fourie debuteer met ‘n pragbundel Knapsekêrels (Naledi, 2017) wat kontreiverse bevat wat sterk herinner in stylaard aan Van Wyk Louw se Klipwerk-reeks.

Boerneef, ons ander groot volksdigter, praat ook saam.

Hierdie soort skerf-gedig, soos hierdie leser dit tipeer, word dikwels geskryf deur ‘n volwasse digter wat terugkyk op sy jeug. Dis verse gevul met nostalgie, verlange en pyn; van ‘n wêreld wat vir ewig verby is.

Fourie skryf boere-haikoes. Punt-digte. Onvoltooide verse wat wag vir invul en klaarskryf. Die gedig as blokkiesraaisel vir die leser.

Van Wyk Louw se “Klipwerk”-reeks is volksliedjies en guitighede wat hy aangepas en verdigterlik het. Pieter Fourie se gedig “voorbode” (111) is ‘n voorbeeld van hoe hy dig:


voorbode 

’n ouvolk sit
op dophouklip

skielik gil
tinktinkie skril

in huisnok skuil
die nonnetjie-uil

dan kou die lam
aan doodsnot van
witappeltjie 

Witappeltjie as die giftige karoobossie wat die gevreesde gousiekte by skape veroorsaak, word hier met die ouvolk, ‘n primordiale dier verbind.

By Louw is die skunnige eweneens aanwesig. Fourie laai ‘n varkblom met seksuele innuendo (103). Die reeks “los kraletjies” (59) is ‘n hoogtepunt in hierdie bundel met sy speelse aanslag:

2

tietermantollie
tonteldosie
in knippievlam
kring ons krosie

 

En hoe pragtig om te verneem van die “bokwagter” (39) se kaviaar in die diep Tankwa.


Wingerdgriep

my baaisiekel se naam
nugter-en-dronk
dorp toe nugter, huis toe dronk

ai, toggie, ai
swerkater
ou swartmaraai

tortel kan buite koer
maar my tessie
kom deur tralies loer (86)

 

Die derde digbundel van Pieter Fourie, Stof en ster is ‘n vervolg op die eerste twee bundels Knapsekêrels (2017) en Bidsnoer (2018). Die leser vind dieselfde tegnieke hier: skerfies gedigte, die optekening van ‘n vervloë era, volksryme of -raaisels en die ontginning van ou woorde.

Goljaartjie, poelpetaan, vrotpootjie, êprou, o.a. Die naamgewing is eweneens so bekend aan die landelike wêreld wat beskryf word soos kleinneef kosie harmansdrup, tant breggie koesisterkoningin, daantjie donnerpadda, dowe neef nathan waterfiskaal.

Menslike deugde en ondeugde word teenoor mekaar geplaas.  Alles gesitueer binne ‘n herkenbare landskap. Die verse is mooi in hul eenvoud, sonder om eenvoudig of eenduidig te wees. Die seksuele, dans, sport, skuldmaak, die dood, die herinnering aan oorlog, klasverskille kom aan bod.

Stof en ster; orde teenoor chaos; lewe teenoor dood: die binariteite wat die stramien van die lewe behels en wat hierdie digter opteken. ‘n Mens sou ‘n uitgebreide studie kan onderneem oor hoe “Klipwerk”, Boerneef en Fourie se verse dieselfde prosesse belig waar die digter dikwels aan die stemlose ‘n stem gee. Vir sommige lesers sal daar selfs sprake mag wees van kulturele appropriasie; vir ander is die optekening alreeds ‘n daad van argivering.

Ons vind ‘n volmaakte drieluik in sy diguns.  Ek het uitvoerig oor hom geskryf op my blog Woorde wat weeg na die verskyning van elke bundel.

 

http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=pieter+fourie Besoek 13 September 2021

 

So praat hy met Boerneef in Bidsnoer:

 

misterie

(vir boerneef)

sy’t male sonder tal
skimpskaam
hoog bo wupperthal
berggans gevra:
“het jy nie altemit
al weer ’n veer laat val?”
vergeefs
penorent
in waaisand
pronk ’n veer
kiertsregop
in ouvroutjie
se skoolinkpot

(22)

 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Daniel Hugo: Pieter Fourie: Die digter wat my ‘n job gekos het
Skakel na resensie van “Liedjes/Liedjies” (Nachoem Wijnberg) soos vertaal deur Daniel Hugo →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid
  • Nuwe Publikasie. Ilse van Staden: Metamorfose
  • Digtersprofiel: Bernard Odendaal
  • Gerard Scharn. het was verschrikkelijk
  • Nuwe Bundel. Margaret Cordier-Biermann: Spiraal

Nuutste kommentaar

  1. Marieta McGrath on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie31 August 2026

    Ek hou hiervan.

  2. Johan Coetzee on Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer30 August 2026

    Die hemel... of hel is opgedollie.

  3. DIETLOFF VAN DER BERG on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)28 August 2026

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van 'Boondoks' tot 'Gelykenis' is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

  4. Soekie Vogel on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)27 August 2026

    Hambidge het haarself oortref in haar digsiklus oor De Lange. Aangrypend.

  5. Daniel Hugo on Ilse van Staden. Die Dans25 August 2026

    'n Wonderlike huldeblyk aan die digter se moeder en Van Wyk Louw.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d