Fisting-as-écriture
Moes deur baie pyn
om mens te word,
artikuleer ons digter
op die Dam; moes deur baie veg
om self te vind,
van hier tot in verre plekke
terug in die gevegsone van die digkuns
immers ‘n binne-geweld wat beskut
teen buite-geweld:
ek-sing-oor-die-liggaam
se oorskot, ek lees
Eve Kosofsky Sedgwick
se Die weer in Proust
en elders, ja elders
is dit altyd mooi weer en warm
vir hulle gebore met regte
en voorregte,
nooit weet hoe
dit voel as jou tong
as kind uitgesny is.
Uitgeskuif, weggedruk.
Hierom die vuis-in-die-lug,
daarom die woede
by ons, ‘n myn-‘n dyn,
die Afwykendes, die derde seks,
die transgender, die deviant,
smagtende na stilte
na hierdie oorlog, ‘n El-Alamein.
© Joan Hambidge, 2021