Resensie. “Landluisteraar” (Carina van der Walt)

 

 

 

Landluisteraar deur Carina van der Walt. Naledi, 2021

Resensie: Nini Bennett

Landluisteraar is Carina van der Walt se Suid-Afrikaanse debuut ná haar debuut as digter in Nederland met Amalgaam (2015). Die digter het in die afgelope 15 jaar ’n stewige reputasie as kunsverslaggewer verwerf. Die kunsboek Stilspraak: Strijdom van der Merwe en Landkuns is in 2020 by African Sun Media gepubliseer. Landluisteraar is ’n literêre voortsetting van Stilspraak met beeldgedigte oor Van der Merwe se landkuns. Konsepsketse en landkunsfoto’s uit dié kunstenaar se oeuvre is in die bundel opgeneem. Op die agterflap verneem die leser, en ek haal aan uit Hollands Maandblad: “Van der Walts emphatische poëzie is zonder vals sentiment en opgetrokken uit een taal van ongekende schoonheid die betoverend is.”

Die keurige omslagontwerp toon ryp grassade wat ligwaarts groei vanuit ’n groen landskap. Grassade is algemeen bekend as simbool van vergankliklikheid en skakel tematies met “oorgawe I” (37) en “oorgawe II” (45).

Die bundelrubrisering getuig van ’n netjiese verdeling in 7 dele, genaamd “erwe”, “die landskap  die vrou”, “in trans”, “in transito”, “plakkate   pleisters”, “appèlle” en “as”.

Landluisteraar sluit aan by tradisionele  landskapspoësie; die verse is eerder stemmig as evokatief. Die geïmpliseerde ekokritiek bly onderbeklemtoon en die aardse word deurlopend voorop gestel. Die bundel bevat ekfrastiese gedigte waarin daar ’n interaksie en simbiose ontstaan tussen kuns en woordwerk: Strijdom van der Merwe se landskapskuns tree met ander woorde in gesprek met Van die Walt se beelddigte. Hiermee sluit die digter aan by die tradisie beeldgedigte in Afrikaans, byvoorbeeld die werk van Sheila Cussons, H.J. Pieterse, D.J. Opperman, Antjie Krog, Tom Gouws en die fotogedigte in Hans Pienaar se bundel, Uithoeke / Outcorners. Die beeldgedigte in Landluisteraar wissel tussen beskrywend, krities, interpreterend en meditatief.

In die eerste gedeelte, “erwe” raak dit duidelik dat die verse ’n sinestetiese wending van die visuele na die ouditiewe neem. Landluisteraar doen ’n beroep op die leser om nie net te kyk nie, maar te luister na die landskap. In “Stellenbosch” (5), met sy ryk verwysing na voëllewe word die leser genoop om te ontwaak uit die muwwe binnenshuise psychoma van laasgenoemde dorp. Die spel met klank word voortgesit in “Tankwa Karoo” (6 – 7) met sy onomatopee: “grr   grrr   grr   grr / protesteer die swartgeskroeide / klippies onder sy stapskoene”.

Die daaropvolgende gedeelte, “die landskap      die vrou” tree in gesprek met Van der Merwe se foto’s en sketse. Minimalisme voer die botoon en alle verse in dié deel is geskryf in koeplet-, tersine- en kwatrynvorm. Nie alle verse is egter geslaagd nie, byvoorbeeld “III” (15) lees bloot soos ’n dekoratiewe gerym: “hy gooi sy toorbeentjies in één lyn / soek beskerming teen die sonsvenyn”. ’n Meer geslaagde poging is die kwatryn “X” (29), waarin woordspel en kontraswerking tussen sprokie en kaktus deurgevoer word: “sappig van blad pittig van vrug / kroon hy versigtig die turksvy op haar rug / sy is sy aspoestertjie    hy eet wat hy lus / ondanks haar naam as puntenerige kaktus”.

Die derde “in trans” sinspeel op die dubbelduidige betekenisse van die meditatiewe en transendentale, asook dít wat deurskynend (transparent) is. In “oorgawe I” (37) kom gras, soos reeds genoem as simbool van verganklikheid, voor binne die konteks van ’n man wat op sy familieplaas dans en ’n geestelike ontwaking in ’n “derwijstrans” beleef. Die versmelting met die natuurlewe in “soektog I” (39) word voortgesit as ’n soeke en bevestiging na ’n eksistensiële eenwording met natuurelemente. Die verwysings na chakra’s as die esoteriese meditasie rondom energiepunte in die liggaam word vervolgens beskryf in “mag I” (41). Die laaste vers in hierdie gedeelte, getitel “beheer I” (42) verbeeld die transendentale verbeelding van musiek, al is dit ook fiktief. Waar die hidrouliese krag van water ter sprake kom in ’n latere vers, “onmag II” (46), berus die spreker haar in “onmag I” (38) in die weerstandlose gang spoelklippies, ’n mistieke manifestasie. Hierdie vers sorg vir een van die hoogtepunte in die bundel.

 

onmag I

ingedagte probeer hy om die water

met ’n stomp te keer

as dit nie werk nie

droom hy spierwit spoelklippies

soos ’n snoertjie varswaterpêrels

in die skeur van die hout

wanneer die ry pêreltjies afgly verloor

die dryfhout sy geheue vir swaarte

draai stadig in lyn & stroomaf        (38)

 

Die vierde gedeelte, “in transito” besin oor die beweging en oorgangsprosesse in die natuur. “oorgawe II” (45) skakel intratekstueel met die vorige gedeelte se “oorgawe I”, waar “om kroon op die kop te dans” van ’n “derwijsdans” uitvloei in ’n geluksalige geestesvervoering en ’n oorgawe aan die niet:

 

oorgawe II

om kroon op die kop te kan dans

in die lang gras

moet mens luister na die wind

deur die riete

die dou op die gras se halms

& die son wat alles laat verdamp

– woorde woorddadigheid wonde –

geluk lê in oplos & grasword

 

Alle verse in die voorafgaande gedeelte, “trans”, ondergaan nou ’n proses van verinniging en transformasie en is telkens aangedui met ’n Romeinse ‘II’. Dit sal die volhardende leser loon om ’n vergelykende lesing van dié twee dele te doen. Vuur as deurlopende leitmotief kom o.m. voor in die treffende “vonds II”, waar die koolstof van verbrande as – ’n metafoor vir nuwe lewe – gejukstaponeer word met ’n dodo, ’n uitgestorwe voëlspesie. Die digter verdien lof vir die fyn uitleg van haar verse – “beheer II” (50), as laaste vers in deel vier, transponeer die organiese lewe na ’n maatskaplike en tegnologiese bewussyn, ’n vers wat met ander woorde as prelude deel vyf se “plakkate       pleisters” binnelui.

In die vyfde gedeelte berig die digter onderskeidelik oor die prosesse van die verwoesting en herskepping van flora. Enkele van die gedigte tree weer in gesprek met Strijdom van der Merwe se konsepsketse. “vlae” (53), ’n vers wat plek-plek rym, handel oor die afbakening en toeëiening van grond, of dit nou die maan(-landing) deur die Amerikaners is, of die verwysings na plekke in die Noord- of Wes-Kaap of Karoo. Die vers word opgevolg deur “organiese drome” (55) en “meganiese drome” (57) waarin die mens as nietige rolspeler beleef hoe die aarde bedreig word deur die myn van skaliegas. Die impak van menslike geweld op die natuurlike habitat word verder onder die loep geneem in “wondweefsel” (63) met die treffende slot: “stadig verdik haar littekenweefsel / grashaartjies groei nie op pangamerke nie”.

Die skade van verwoestende brande kom vervolgens aan die beurt in “wandeling” (64) en “ring van vuur” (65).  Landluisteraar gee ’n tong aan die aarde wat vertel van die verwonding wat sy moet verduur, verse wat aansluit by die Antroposeen. Die vernietigende brande wat Papegaaiberg, Simonsberg en Jonkershoek deels in puin gelê het, word ontstellend verbeeld in “ring van vuur”: “slange sis vlamtonge lek aan ’n kraaines / – die arend sirkel bo haar klaargaar eier”. (65). “skadutyd”, (68 – 9) verleen ’n poëtiese narratief aan Van der Merwe se foto en lewer kritiek op De Beers se monopolie op die delf en ontginning van diamante in Suid-Afrika en Namibië.

In die tweedelaaste gedeelte, “appèlle” intensiviseer die sosiale kritiek en sit die digter haar intertekstuele spel met Van der Merwe se konsepsketse voort. “hoe Mandela kyk” (75) skakel met ’n reeds gemelde vers oor Stellenbosch (5). Die neerpen van die historiese narratief van die dag, asook Long walk to freedom word bevraagteken, en ek haal aan, die laaste vier reëls: “wat word verswyg wat word vertel? / hoe ver terug strek geskiedenis? / ontwaak Stellenbosch / in die hoop dat dit nog gister is?”

In die daaropvolgende “hoe Eybers & Tutu kyk” (77) maak Van der Walt sélf ’n kameevertoning as kunstenaar as sy haar konsepnotas vir ’n gedig aan die hand van ’n doodle verwoord. Die ironie in dié vers bevestig dat landsgenote met die koms van demokrasie ironies “minder” geword het; meer ingeperk, meer selfbewus, die laaste ses reëls:

 

stil op die bank langs die paddas se plas

sit ons vir ’n rukkie – digby ons roots –

in die klein oase op pad na Potch-dam

het ons ooit etikette geplak op banke op plante op soorte

mekaar met name benoem     groei teruggesnoei

tot iemand minder?       (77)

 

Die slotgedeelte, “as”, bevat ’n vers, “vuur, vuur” (83) wat aan die leser gebied word as “aangewaaide woorde van Adam Zagajewski uit Krakow”. Zagajewski is ’n ikoniese en veelbekroonde Poolse digter, en Van der Walt het dié vers uit die Pools vertaal met die hulp van die Pools-Afrikaanse digter en letterkundige, Jerzy Koch. Die bundel sluit op ’n hoogtepunt met hierdie vertaling. In die “Verantwoording en Bedankings” agter in die bundel vind die leser die verwysings na Van der Merwe se landskapskuns wat ook die verskeie geografiese registers posisioneer binne Duitsland, Switserland, Japan, asook plekverwysings in Suid-Afrika.

Van der Walt sorg vir ’n ryk geskakeerde bundel waarin beide digter en kunstenaar “saampraat” om die sosiale en ekologiese uitdagings van die dag aan te spreek. Van der Merwe se visuele blootlegging van sjamanistiese natuursienings resoneer met Van der Walt se beeldgedigte.

Ongelukkig ontsier enkele mankemente die bundel, byvoorbeeld die oordadige gebruik van hoofletters soos “DIE LIEFDE” (79); “MAGTELOOS” (73), of “RED” (65). Die herhaling van werkwoorde in koppeltekenverbindings is eweneens steurend, byvoorbeeld “knip-knip” (73); “klap-klap” (53), of “tik-tik-tik” (41). Wat my egter dronkslaan is die melodramatiese oopvler van die woord “ton-nel-vi-sie” skuins onder mekaar afgedruk (77) – ’n ervare digter soos Van der Walt weet van beter as om haar skuldig te maak aan dié literêre slordigheid wat eerder die duimafdruk van ’n beginnerdigter is. Landluisteraar is, alles in ag genome, ’n bevredigende debuut en verrykende leeservaring waarby ’n wye lesersgehoor aanklank sal vind.

Bookmark and Share

Comments are closed.