Cyril JM Clarke: dodedans
dodedans
’n kleindorpse kadriel
die atmosfeer
in die koel interieur
van die imposante sandsteenkerk
is droefgeestig-gewyd
op die orrelgalery
die orreliste
slaggereed
voor die orrel
by die majestueuse orrelpype
op die kansel
roerloos
die prediker
’n mens-grootte vlermuis
in sy swart toga
met hoëpriesterlike swart fluweeltosseltjies
reg voor die kansel
die gereserveerde voorste gestoeltes
vir die familie – verkieslik stemmig geklee in swart
dan
die res van die gemeente
almal is daar
hy was ’n geliefde lid van sy gemeenskap
mens moet tog jou laaste eer betoon
die kerkklok dong-dong diep die laaste voltooide lewensjare
van hom wat ons voorafgegaan het
die soliede swaar swarthout-dubbelhoofdeure
gaap geruisloos oop
die orreliste hef aan
die gedrae donker dodemars
uit die oratorium “Saul” van Händel – molto maestoso
die vlêrmens vlieg orent
die teenwoordiges staan
rig hul oë
afwagtend soos bruilofsgangers
wat die binnekoms van die bruid verwag
op die gapende gang
wat die hoofskip van die heilige tempel
ewewydig verdeel
voor stap die langslewende eggenote
stemmig geklee
in ’n swart hoed – met smaakvolle gesigsluier
byderwetse dog sindelike swart tabberd
ARWA sheer gunmetal-sykouse
swart hofskoene
agterna
hulle wat
tot in die derde en vierde geslag
die afgestorwe geliefde innig liefgehad het
soos ’n swerm skroppende swart rawe
tot by die vooraf-uitverkore ereplek
almal sit
behalwe die voorganger
die finale orrelakkoorde
sterf
weg
die vlermuis
profeteer
sy volle geallokeerde uur
tot lof van die ontslape broeder
hy sal gemis word
hy was in sy gemeeskap
’n Seder van die Libanon
tot troos van die familie
sy plek is leeg
maar hy is
waarskynlik
reeds een van die grootste edelgesteentes
in die Meester se kroon
tot stigting van die gemeente
geliefdes
maak julle saak reg
ons bewandel almal dié dal van donker skadu’s
by die oop graf
tussen ’n menigte marmer- en grysgranietmonumente
almal opgerig
in liefdevolle herinnering aan dese en gene
word die stoflike oorskot
van die ontslape geliefde
in die duursame houtkis
behendig
ter aarde bestel
die bedroefdes onttrek
die graf word toegegooi
die vars hoop grond
van bo tot onder
verdoesel met wit-en-pers
plastiekkranse
aangedra deur meelewendes
die nabetragtingstee
is ’n kulinêre katarsis
daar’s
toebroodjies
vleispasteie
sop
koffie
tee
koeke
terte
en koeksisters
’n mens stuur hulle wat ver gereis het
nie honger huis toe nie
selfs die weduwee
emosioneel ontdaan
sit
getroos en gelawe
argeloos
en pik
aan ’n smaaklike skyf tradisionele melktert
© Cyril JM Clarke, 2021