kantaantekening: 14201
Hic non defectus est, sed cattus minxit desuper nocte quadam.2
met die teks
op dié bladsy
skort niks
alhoewel
een van die skryfkamer
se muiskatte
slinkse
swernoot
swerkater
het oornag
op my oop manuskrip gewater
aldus
die aaklige
ondraaglike
onuitstaanbare stank
as die skriba weg is
is elke kater mos koning
dan kattemaai en kerjakker
die kattegeslag
hou kattekonsert
met ’n gesis en kattegetjank
’n gekerjakker gejoel en gejou
sonder om vir handgeskrewe tekste
’n snars oor te hou
snags is alle blikskaterse katte mos grou
vervloek
is die verpestelike pister
en die hele vermaledyde
muisvangergeslag
domestica cattus
oor die walglike walm
nota bene
agbare medebroers
dalk moet ons
saans voor vesper
manuskripte toemaak
en die scriptorium-deur
oop
© Cyril JM Clarke, 2021
1 In Middeleeuse biblioteke en scriptoria (skryfkamers by kloosters) het katte (bekend as “muiskatte/muisvangers”) tussen die boekrakke rondgesluip op soek na rotte en muise wat aan bladsye van die perkamentmanuskripte sou peusel en ‘n leeftyd se werk vernietig. Een so ‘n kat het in 1420 in die skryfkamer van die klooster in Deventer (‘n ou stad in die provinsie Overijssel, Nederland) besluit om vir die monnike ‘n ekstra spesiale geskenk te laat terwyl hy die vloere van ongediertes skoonmaak … Hy het op ’n oop manuskrip gepiepie!
2 Die nota wat die monnik op die bladsy van die manuskrip gemaak het:
Oorspronklike Latyn: “Hic non defectus est, sed cattus minxit desuper nocte quadam. Confundatur pessimus cattus qui minxit super librum istum in nocte Daventrie, et consimiliter omnes alii propter illum. Et cavendum valde ne permittantur libri aperti per noctem ubi cattie venire possunt.”
Afrikaanse vertaling: “Hier skort niks nie, maar ‘n kat het gedurende ‘n sekere nag hierop geürineer. Vervloek is die lastige kat wat gedurende die nag in Deventer oor hierdie boek geürineer het en daarom ook alle ander [ katte]. En pasop om nie saans manuskripte, waar katte kan bykom, oop te los nie.”