John Lennon and Yoko Ono. New York 1980.
Na ‘n foto van Annie Liebovitz.
Hoe kon jy weet dat jy daardie dag Annie,
‘n memento mori sou skiet?
Jy wou albei naak fotografeer
maar Yoko poseer
in swart, met haar hare uitgewaaier
soos wier in water ̶ ‘n hedendaagse
Ophelia; John lê fetusbaar, linkerbeen
byna vertroostend oor haar
geknak tot piramide, omarm
haar gelaat soos ʼn boei ʼn drenkeling
sou, sy lewenskus op haar wang gevries;
om die paring van ʼn pasifis en ʼn fluxis
hang reeds ʼn lanfer raam ̶ ‘n begrafnis-
brief vir die doodskoot vyf ure later.
© Franco Colin, 2021
[Fluxus: ‘n kunsbeweging wat die proses van skepping
as hoër prioriteit ag as dié van die produk.]
Sien die foto by die volgende skakel. Waarskuwing: Eksplisiete naaktoneel.
Nogtans baie dankie aan die redaksie vir die skakel. Hierdie skakel vertoon ook die “lanfer raam” van Me. Liebovitz se oorspronklike druk van die foto.
https://www.artsy.net/artwork/annie-leibovitz-john-lennon-and-yoko-ono-new-york
Digters en lesers van die digkuns word nie gewaarsku oor eksplisiete naaktonele. Ons lees Breytenbach en De Lange al vir jare.
Die gedig het nie die “waarskuwing” nodig nie.
‘n Gedig is veronderstel om grense te verskuif: op alle vlakke.