Chronologie
Ek het ’n outomatiese horlosie
wat ek wysneusig noem:
horologiese anachronisme.
Beweging wen dit op
met pols teen ’n pols gehou.
Eens toe dit nuut was
het dit ook dag en datum afgetel
nou net ure, minute
en sekondes
die heel genadigste.
Sou grotmense so iets optel
toe tyd nog gevoel is
en nie bekyk –
Iets blinks met ’n eie tik
sou hulle klip gryp en kap
om stil te maak en siel te soek
maar tyd glip soos lig deur die vingers
daar bly net ratjies en vere en
wieletjies binne wieletjies.
In die nag het hy opgehou tik
ek vang hom in die môre uit
hy wou my dood voorspel
maar hy het hom misreken
hoe vas my pols aan hom klou
© Anton Dockel, 2021
