Brand UCT Sondag 18 April 2021
I
‘n Stilfilm in slow motion
met die regisseur wat al die footage
by nabaat beskou:
‘n Ontploffende gasbottel
by Rhodes Memorial;
‘n sterk wind;
vuurballe wat in die lug opskiet,
aftuimel op geboue en ‘n biblioteek
verwoes tot die historiese meul
in ligte laaie laat; brandende bome
en lower teen die mure roesrooi …
‘n Brandweerman moedeloos
voor ‘n gebou; studente in Smuts Hall
wat red wat te onredde is soos Rhodes Must Fall
en Fees Must Fall.
II
Watter filmmaker sou hierdie Armageddon
kon verhaal? Altman of Visconti?
Wie sou die Inferno – so reg uit Dante –
filmies kon weergee? Polanski
of Béla Tarr? Cinema vérité
of verbeelding?
In my opgeefsel: die kameraman
(soos in Sátántangó)
registreer alles, sodat werklike tyd
en filmiese tyd één
word in hierdie hellevaart:
‘n laaste skoot met die handkamera
(wat swiep en gly, opwaarts, afwaarts beweeg)
dan fokus op The burning library
(deur Edmund White),
terwyl ons lees op die skerm:
Al die veld is vrolik; al die voëltjies sing;
al die kriekies kriek daarbuit’; elke sprinkaan spring.
Al die koggelmannetjies kom om fees te vier;
hier galop ‘n goggatjie, daarso dans ‘n mier.
Al die veld is vrolik – C. Louis Leipoldt
© Joan Hambidge, 2022
Wat ‘n fantastiese gedig, baie dankie. Joan Hambidge moes al lankal die Hertzog-prys gekry het. Sy kan vir Elizabeth Eybers ‘n ding of twee leer.