Waldemar Gouws. oor erflewe in skemertyd
oor erflewe in skemertyd
‘n vlugtige skandering van die aandlug
al met muskiet- mot- en muggieroetes langs
die sonar van ‘n vlermuis op lug
en die gemaksug waarmee hulle toesak op takke in bloekombome
begin sit tarentale die donkerte deur met brawe geredekawel
so vergesel hy die wyfie met sy maskuliene hyg
en sy gepaarde vlerkslag na hul kolgansslaapplek toe
hoe na aan die begroeide grond peuter
die janfrederik ene ore nog met sy repertoire
waar uit sy dagholtetjie onder die vygie die skurwepadda opstrek
en holmaag koers-koers mik op ‘n kriek se kriek af
onder die verskeidenheid g’n klas of spesieïsme of smouskommoditeit
ontsag berus op die groot tydlose voedselketting
my kultuur van torring en breek aan die skakels ten spyt
© Waldemar Gouws, 2022