Joan Hambidge. Kiëf
Kiëf
Daardie stad besoek met jou, ‘n fotograaf
op ‘n reisbesoek van Rusland na die Ukraïne.
Hier verbied die kondukteur jou om foto’s
te neem deur ‘n venster op pad na die grens.
‘n Tyd voor die putsch en daarna ‘n uitstalling
van hierdie landskap met foto’s van Ки́їв
se letsels van die WO II opmerklik uitgebeeld
soos my onvermoë om van jou te herstel.
Vanoggend kyk ek na afdrukke van die Sint Sofia,
die Marrinski-paleis en die Vryheidsplein
en wonder of jy waar jy tans vertoef, tog onthou
van “Poem through binoculars” se dubbelbeelde:
want jou dood se stilte is ónverduurbaar,
terwyl ‘n nuwe oorlog woed: onloënbaar.
© Joan Hambidge, 2022
Ek hoop nie ons verwag óf ‘n Uys Krige se “Lied van die fascistiese bomwerpers” óf Breyten Breytenbach se “bid vir Hanoi” op hierdie stadium nie.
Hierdie gedig kommunikeer deurlopend op twee vlakke:
Die spreker word herinner aan die afwesigheid of dood van ‘n reisgenoot deur Kiëf; maar terselfdertyd word die leser gewys op die dreigende oorlogsituasie en die geskiedenis wat homself herhaal.
Die dubbellensfokalisator van die verkyker dui op die superponering van hierdie twee pynlike beelde. Die slotreël dui op die onversoenbare konvergensie van beide gedagtes.
Uitstekende gedig!
Ek vermoed die “poem through binoculars” kan moontlik ‘n verwysing wees na die digter Charles Tomlinson.
“Binoculars are the last phase in a romanticism:
The starkly mad vision, not mortal,
But dangling one in a vicarious, momentary idiocy.
To dispense with them
Is to make audible the steady roar of evening,
Withdrawing in slow ripples if orange,
Like the retreat of water from sea-caves.”
Hierdie gedig is ‘n soort selfgesprek. En ‘n Terug-praat met Eybers en ‘n herinnering aan die werklike reis. Die gespreksgenoot is inmiddels oorlede.
So aktiveer hierdie oorlog die reis, ‘n terugkeer na Rusland toe en ‘n nuwe “interne verhuising”.
Poem through binoculars
Die swaan
bly dankbaar oor haar dubbelbeeld
gebuig. Die Russiese landskap
onnoembaar groot uitgestrek:
vreemd-melancholies op hierdie aand.
Die swaan
word kleiner deur my lens
soos die trein tussen Moskou en Kiev
voortsnel. (‘n Toneel uit Dr. Zhivago?)
Cirillies die taal:
vreemd dog net-net ontsyferbaar
soos Rook Verbode
wyl jy onvermoeid jou foto’s
in Agfa-kleur direk verpak.
Die swaan word net betyds in dié strofe opgevang
voordat die kondukteur op Russies jou verbied
om enige verdere foto’s
deur die venster weg te steel.
Tussen Moskou en Kiev
is ek nie langer jaloers op die toeganklikheid
van jou klikkende medium – skryf
(al bly dit ‘n dubbel(s)lagtige bedryf)
immers nie hier verbode. (Of hoe dan Pasternak?)
Die swaan
bly immers só bewaar.
(uit: Interne verhuising, 1995).
Baie dankie, Joan, vir die moeite om die gedig te verhelder. Nou verstaan ek die stamboom van die gedig baie beter en herken Eybers se bekende gedig in die intratekstuele verwysing na die “poem through binoculars”:
“Twee Kleuters im die Vondelpark
Twee kleuters in die Vondelpark bly staan
‘n klein oneindigheid land hand-in-hand.
Smetloos geteken dryf die dubbelswaan:
gesplete hart van hals en dubbelhals,
geskulpte vlerk met dubbelvlerk teenaan,
geslote snawel dynserig vervals
met eenkant lug en water anderkant.”
Die titel “Interne verhuising” is hoogs evokatief en aktiveer reeds by my ‘n soort poëtika van ruimte en natuurlik liminaliteit. Ek wonder of die bundel nog beskikbaar is?