Die Toring van Babel III – (in jou kil blou oë)
in jou kil blou oë het ek my eie gesig gesien.
in die uitvoering van wat jy as reg beskou
het ek verstaan
wat ek
is
langs die puinhope het ek die kinders sien huil
aangetrek in die vodde flenters
van wat ons geword het
om by dié punt
uit te kom
ons het onsself opgehys na ons eie toring van Babel
maar ons vlerke is al van ons oorsprong af geknip.
van die begin af is daar aan ons verduidelik
dat ons mag vlieg
maar dat niemand deur die vlug
leed aangedoen moet word nie –
dat niemand as gevolg van ons vlugte
huisloos gelaat moet word nie –
keer op keer is die toring ter helle neergelaat
om in die aangesig van die bose
vir die man in swart te leer
dat die toring nooit die hemele sal kan bereik nie.
keer op keer het die toring in vergetelheid weggesink
en keer op keer moes vredemakers
en geweerslingeraars ingryp
– en hulle ook maar mens – reusagtige koppe –
en soms is die besluite – uit die aard van die saak – geneem oor hulle
en nié oor die kinders in hulle vodde flenters nie
in jou kil blou oë het ek my eie gesig gesien.
in die nakoming van my belofte
om jou as my gelyke te aanvaar
het ek verstaan
wat ek
is
die brandstigter, die nek-trappende rassis,
die selfmoordbomaanvaller, die korrupte eiendomsmagnaat
die virus in die long, die president se uitvoerende tong –
mý vinger op die knoppie van die hommeltuig se ghong
in jou kil blou oë het ek my eie gesig gesien
en in die uiteinde van wat ek geword het
het ek myself in die spieël bekyk:
die punt van die pistool
harder teen my tempel gedruk
en onbedaarlik begin huil
© Bester Meyer, 2022