
Guillaume Apollinaire (1880-1918). Vertaling van Frans in Afrikaans. Vertaal deur Waldemar Gouws.
My dierbaarste klein Loe
Louise de Coligny-Châtillon
XXXIII
My dierbaarste klein Loe ek het jou lief
My liewe klein palpiterende ster ek het jou lief
Verruklike elastiese liggaam ek het jou lief
Vulva wat vasklem nes ‘n neutekraker ek het jou lief
Linkerbors so pienk so astrant ek het jou lief
Regterbors so rosig teer ek het jou lief
Regtertepel kleur van sjampanje uitgebruis ek het jou lief
Linkertepel lyk na ‘n knop op die voorkop van ‘n pasgebore kalfie
ek het jou lief
Klein lippies hipertrofies deur jou herhaalde streling ek het julle lief
Boude kostelik flink wat van agter terugbons ek het julle lief
Naeltjie soos ‘n versonke maan en donker ek het jou lief
Vag lig soos ‘n woud in die winter ek het jou lief
Armholtes donsig soos ‘n swaan wat pas uitgebroei het ek het julle lief
Skoon val van jou beminlike skouers ek het jou lief
Dy se kontoer so esteties soos ‘n antieke tempelpilaar ek het jou lief
Ore afgewerk soos klein Meksikaanse juweliersware ek het julle lief
Haredos geweek in bloed van die liefde ek het jou lief
Voete slim voete wat vastrap ek het julle lief
‘n Ruiter se lende sterk lende ek het jou lief
Middellyf wat nooit ‘n korset geken het nie soepel middellyf
ek het jou lief
Rug wonderbaarlik wat vir my gebuig het ek het jou lief
Mond o my behae o my nektar ek het jou lief
Unieke blik van jou oë sterre-blik ek het jou lief
Hande wie se bewegings ek aanbid ek het julle lief
Neus merkwaardig aristokraties ek het jou lief
Tred undulerend en dansend ek het jou lief
O kleine Loe ek het jou lief ek het jou lief ek het jou lief

Mon très cher petit Lou
XXXIII
Mon très cher petit Lou je t’aime
Ma chère petite étoile palpitante je t’aime
Corps délicieusement élastique je t’aime
Vulve qui serre comme un casse-noisette je t’aime
Sein gauche si rose et si insolent je t’aime
Sein droit si tendrement rosé je t’aime
Mamelon droit couleur de champagne non champagnisé je t’aime
Mamelon gauche semblable à une bosse du front d’un petit veau
qui vient de naître je t’aime
Nymphes hypertrophiées par tes attouchements fréquents je vous aime
Fesses exquisement agiles qui se rejettent en arrière je vous aime
Nombril semblable à une lune creuse et sombre je t’aime
Toison claire comme une forêt en hiver je t’aime
Aisselles duvetées comme une cygne naissant je vous aime
Chute des épaules adorablement pure je t’aime
Cuisse au galbe aussi esthétique qu’une colonne de temple antique
je t’aime
Oreilles ourlées comme de petits bijoux mexicains je vous aime
Chevelure trempée dans le sang des amours je t’aime
Pieds savants pieds qui se raidissent je vous aime
Reins chevaucheurs reins puissants je vous aime
Taille qui n’a jamais connu le corset taille souple je t’aime
Dos merveilleusement fait et qui s’est courbé pour moi je t’aime
Bouche ô mes délices ô mon nectar je t’aime
Regard unique regard-étoile je t’aime
Mains dont j’adore les mouvements je vous aime
Nez singulièrement aristocratique je t’aime
Démarche onduleuse et dansante je t’aime
O petit Lou je t’aime je t’aime je t’aime
Uit: Apollinaire, Guillaume. 1955. Poèmes à Lou. Genève: Pierre Cailler.
https://www.poetica.fr/poeme-5376/guillaume-apollinaire-mon-tres-cher-petit-lou/
Die fisiese verhouding tussen Apollinaire en Louise de Coligny het maar net enkele dae lank sy en haar gang gegaan. Die kortstondige samesyn het vanaf die einde van Desember 1914 tot laat in Januarie 1915 geduur: tydens sy Nuwejaarsverlof (as soldaat) in Nice, toe nege dae bymekaar in ‘n kamer naby sy kaserne in Nîmes en laastens tydens nog ‘n kort verloffie teen die einde van Januarie. Daarna is hulle a.g.v. die oorlog uitmekaar. Die verhouding is voortgesit in korrespondensie totdat dit laat in 1915 doodgeloop het. Die 76 gedigte wat Apollinaire gedurende hierdie periode in briewe aan haar gestuur het, is vir die eerste keer in 1955 in Switserland gepubliseer.
In reël 1 gebruik Apollinaire die manlike vorm mon om sy geliefde Loe aan te spreek, as woordspeling van Lou met loup soos in die Franse uitdrukking van toegeneentheid en liefde mon petit loup (my klein/liewe wolf). So dui die manlike adjektief (petit) ook in die finale reël op die homofone Lou/loup. Die voorwerp van die digter se aandag aan die begin van reëls 4, 10 en 13 onderskeidelik, sou deur kanonieke Afrikaanse samestellings met ‘n “skaam-“lid elk (as bepaler) vertaal kon word. Hiervoor het ek egter nie kans gesien nie. Reël 10 se nymphes het ek vertaal deur gebruik te maak van die Franse sinoniem, t.w. petites lèvres, dus “klein lippe.”
Reël 7 se (vin) champagnisé verwys na vonkelwyn. My “uitgebruis” word gebruik om die non champagnisé mee te vertaal.
Reël 23 se letterlike “Dos … qui s’est courbé pour moi” (Rug … wat vir my gebuig het) is meer as ‘n minnekoors ver van die figuurlike “courber l’échine” : om die ruggraat te buig (voor) – d.w.s. om onderdanig te wees, om jou te onderwerp.
Ek vertrou dat hierdie vertaling die bestaande spektrum uitbrei van lig uitgestraal in Afrikaanse liefdesgedigte. Nog ‘n kleur kan gekry word. Nog ‘n kleur kan gewys word. Die karnale is nie net vir karnallies nie.
