Foto: Andrew Johnson (Unsplash)
God in ‘n ensiem
My dogtertjie weier
om verbruinde appelskywe te eet.
Jig! sê sy en klem haar arms vas.
Sy dink, glo ek,
iets boos het met
die appel gebeur.
Sy’s bang vir wat sy nie
verstaan nie.
Bang vir wat sy nie
kan sien nie.
Bang vir dit wat
sonder rede is.
Tot ek haar vertel
van oksiderende ensieme.
Sien, daar ís rede.
Dis nie toorkrag nie.
Skielik wonder ek:
Praat ek nou teen God,
die wonderwerkende God?
Wat’s ‘n chemiese reaksie? vra sy.
Ruk my terug na stoflikheid.
Dit maak alles nuut, sê ek.
Sit net suurstof
by ‘n appel
en maak van ‘n fenol ‘n kinoon.
Maar daarvoor benodig jy ‘n skuiling,
‘n koesterende ruimte téén
invloede van buite.
En dis wat ‘n ensiem is:
‘n katalisator, ‘n helpende hand,
‘n bystander wat deelneem,
chemies verander en tog
onveranderd bly – dis
wat ‘n ensiem is.
Maar hoe weet jy ensieme bestaan,
as niemand dit kan sien nie? vra sy.
Want ons sien hoe die appel verbruin.
Daar is uitvloeisel, sigbare vrug.
Dis soos God.
Daar is iets van God in ‘n ensiem
en iets van ‘n ensiem in God.
©Marieta McGrath, 2022