Brief uit Kiëf 2022
met ʼn flitslig onder komberse
speel ons gruwelsprokies in die nag
die beer eet sonneblomme,
die beer eet kinders
hy het oranje oë,
hy snuif olie
die beer gooi bomme
op die eerste sneeuklokkies
hierdie rooi lente
luider as die nagtegaal
fluit missiele
maar toemaar toemaar,
iewers speel ʼn vrou
chopin
op haar wit klavier in die puin
tussen glas en as en als wat wás
dryf verbode woorde
oorlog inval
maar toemaar toemaar,
bak die ou kluitjie
van dulce en decorum
in die beer se huis
want liewe Vika,
skok is ʼn asgrys sonneblom
ongeloof is ʼn nagtegaal
wat in die sneeu omkom
my gedig is my bunker
my kind toktokkie ondergronds
© René Bohnen, Maart 2022