Johann Lodewyk Marais. Wladimir Poetin

 

Wladimir Poetin

1952–

 

Die man in die woude van die Ooste

waar vulkane gloei en missiele val,

ry kaalbolyf op ’n Kamchatka-beer;

en in Sochi laat hy sy Labrador

inkom en soos ’n donker skaduwee

die Afgaanse mat oorsteek en soekend

snuffel aan Angela Merkel in swart,

stadig omdraai en doodluiters gaan lê.

Om hulle swerm die joernaliste saam

en kry al hoe meer hond se gedagtes.

 

(2007)

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Johann Lodewyk Marais. Wladimir Poetin”

  1. Waldemar Gouws :

    Ná vyftien jaar kan ek die volgende oor hierdie Rus sê (ek hoop veral Johann Lodewyk verskoon my in sy spasie):

    die diktator vandag

    wat doen hy nie vir sy groter glorie nie
    – hy skiet rojaal en blaas met die beste bomme
    die lewende stede op
    hemel toe
    jý ja kan dit sien
    soos intieme intimidasie

    en wat sê sy paterpapegaai
    (die een met die ou kruis en luukse kabaai)
    oor hierdie groter glorie?
    dit is net: Oe-Oe!
    mooi ego-ego
    nóg Oe-Oe!
    nóg nooit ganôg nie!

    22/3/2022