Wenner van Groot SA Rampe-digkompetisie: Joan Hambidge
Die wenner van Versindaba se digkompetisie oor groot SA rampe is Joan Hambidge met “Brand UCT Sondag 18 April 2021”. Die volgende twee gedigte word eervol vermeld: Mellet Moll se “Vaal Reefs, 10 Mei 1995” en Trienke Laurie se “Andries van Wyk”.
Brand UCT Sondag 18 April 2021
I
‘n Stilfilm in slow motion
met die regisseur wat al die footage
by nabaat beskou:
‘n Ontploffende gasbottel
by Rhodes Memorial;
‘n sterk wind;
vuurballe wat in die lug opskiet,
aftuimel op geboue en ‘n biblioteek
verwoes tot die historiese meul
in ligte laaie laat; brandende bome
en lower teen die mure roesrooi …
‘n Brandweerman moedeloos
voor ‘n gebou; studente in Smuts Hall
wat red wat te onredde is soos Rhodes Must Fall
en Fees Must Fall.
II
Watter filmmaker sou hierdie Armageddon
kon verhaal? Altman of Visconti?
Wie sou die Inferno – so reg uit Dante –
filmies kon weergee? Polanski
of Béla Tarr? Cinema vérité
of verbeelding?
In my opgeefsel: die kameraman
(soos in Sátántangó)
registreer alles, sodat werklike tyd
en filmiese tyd één
word in hierdie hellevaart:
‘n laaste skoot met die handkamera
(wat swiep en gly, opwaarts, afwaarts beweeg)
dan fokus op The burning library
(deur Edmund White),
terwyl ons lees op die skerm:
Al die veld is vrolik; al die voëltjies sing;
al die kriekies kriek daarbuit’; elke sprinkaan spring.
Al die koggelmannetjies kom om fees te vier;
hier galop ‘n goggatjie, daarso dans ‘n mier.
Al die veld is vrolik – C. Louis Leipoldt
© Joan Hambidge, 2022
***
Vaal Reefs, 10 Mei 1995
Die aarde sal haar losprys hier verhaal
van hulle wat mekaar vol goud behang
die minnaars wat die dieper klowe delf
die wyses wat by pasgebore gode kniel.
Die aarde sal haar losprys hier verhaal
van hulle wat hul dag se brood verdien
die werkers wat haar binneholtes soek
die mynbestuur wat oor hul almal waak.
Die aarde sal haar losprys hier verhaal
in die tweede skag by Vaal Reefs-myn
waar die ontslape slagoffers vanaand
onder die puin van ’n vergane loko rus.
Ek sal ’n krans gaan neerlê vir die 104
siele wat vir ewig in haar gange dwaal
en met die unies en die shop stewards
sal ek deur Orkney met my fakkel loop.
En wens dat elke nagtrein slegs ’n reis
vir ontheemde pelgrims na hul tuiste is.
© Mellet Moll, 2022
***
Andries van Wyk
Andries van Wyk vertel:
Dit was soos om ʼn fliek te kyk;
ek kon nie glo ek is deel daarvan.
Iewers vandaan herinner ek my:
Ek is ʼn opdrifsel
– deel van die lewenstroom?
Saam met my dryf letterlik:
mense katte honde meubels kratte –
die rivier se etter.
As iemand my nou sou vra:
Hoe gaan dit met jou?
En die antwoord is:
Dit gaan goed; ek lewe nog,
dan dra dit soveel meer gewig.
© Trienke Laurie, 2022
Gefeliciteerd!
Baie geluk, Joan. Welverdiend en relevant.
Geluk aan elkeen van julle.
Van besondere betekenis is die van Mellet Moll. In sy unieke stem loop lewe en dood saam op die pad van vreemde vergelding; soek sin in bedes na bestaan.