Joan Hambidge. Sanctum
Sanctum
My huis is nie meer waar my hart
of voet vertoef nie; iets soos voetstoots dalk?
My gedigte uitgelewer aan ongesiene lesers,
huiskopers besigtig dit dalk met ’n agent,
uit verveling of afguns, met ’n Te Koop–
bordjie as uitnodiging vir verskuiwing of verplasing.
In die huis van Onse Vader is daar glo
vele wonings nes in die huis-van-die-digkuns
met sy vertrekke en stansas en rondele.
As kind in huurhuise, hotelle, tydelike vestings
vertoef; selfs in ’n woning langs ’n begraafplaas:
ligene, geroep klipblomme, groeiend op die stene
tot ons laaste huis langs die walle van die Vaal
met kannas en malvas en sipresbome.
My moeder, die tuinier-met-groen-vingers
en my vader, die man-van-versekering, leer my
jou huis is tydelik, temporeel, behalwe vir daardie
Huis van die Vader, buite tyd of verdriet.
© Joan Hambidge, 2022