Wildebraam
Rubus plicatus
Wildebraam middag,
wildebraam woord,
’n voël het dié dag
koers gekry noord.
Soek ek in die lug
om te sien waarheen
bly ek met leë hande
en mis die reën.
Wildebraam middag,
wildebraam onthou –
het ek ook verdwaal,
bly ek in die kou.
Digteby se roep
weerklink oor die veld
en ná al die jare
word ’n naam vermeld.
Klip dra die toekoms
na waar dit tuishoort.
Wildebraam middag,
wildebraam woord.
(Na Ingrid Jonker)
© Johann Lodewyk Marais, 2022