Opruiming twaalf
Ontdek ‘n asbak van my Oupa Frank, die skilder,
‘n seetoneel met branders en rotse blougrys.
My dowe Oupa altyd tuis gestrand, terwyl sy vrou
seereise na vele eksotiese plekke onderneem.
‘n Ontvlugting vir haar uit ‘n ruimte beknop
met jare later se brokstukke van onvervuldheid.
Haar suster se chaperone en agter hulle staan
‘n moeder krities, afbrekend en vol onbegrip.
Ons sien in hierdie kernagtige opsomming
iets van my teenstrydige aard: iewers gestrand
teen ‘n kuslyn; andersyds immer aan die beweeg
na verre ruimtes gekoppel aan aflegging.
In Puerto Montt of in Santiago de Chili
immer gekonfronteer met ‘n alleenreis
soos die trappe van vergelyking van grys:
grys, gryser, donkerswartste melancholie.
© Joan Hambidge, 2022
