Joan Hambidge. Opruiming dertien
Opruiming dertien
Twee maal analogies leef hierdie spreker:
eers ervaring, dan die opskryf allegories
of metafories in dagboeke of notaboekies.
Dubbele verwysings en dubbelpraat vir seker.
Soms loop die gedig die ervaring vooruit:
dalk net die geheue wat parte speel of steel
uit die bodemlose put van die onbewuste,
‘n biblioteek sonder ‘n stelsel of sisteem.
Teen dusketyd het jy my verlaat, ja:
Ain’t no sunshine when she’s gone …
‘n skemertyd, ‘n latenstyd, ‘n blou uur
in gedig nommer 13 waarin jy figureer.
Dit was jare terug “ons twee” saam;
kriptonemies ‘n voormalige verband.
Mities of argetipies tel ek klippe op:
die pad terug nes Hansie en Grietjie.
© Joan Hambidge, 2022