Meyer van Rensburg. Vincent:  sonneblomme en sipresse

 

Vincent:  sonneblomme en sipresse

 

behep met kleur en lig en son

in elke verfhaal wat jy maak

soek jy die lewensbron

van die geheel

daarom die geel-op-geel-op-geel:

stamp die kwas in elke blomgesig

sodat die plakke olieverf

kan blok en stol en krul

tot stam en blaar en bloeisel

elke blanko seildoek en houtskilderbord opvul

en vir nou eers nié die koringland en kraaie

of knoestige stamme en geknakte wortels

wat dorstig kronkelkoers vir water

nie – dis vir veel later –

nou net sonkleurblomme

met harlekyngroen stingels

impressionistiese strepe, fleurige diepkrapvore

van dartelende kwasstele en paletverfmesse

om die donker sepia blommestamper

en kadmiumgroen kelkblare

met vrolike saffraan- en ambergeel botsels

te verenig, te versoen

en só jou bloeiselsonveld te laat straal

om die geel huis op te kikker

 

die ligspel neem jou só geheel in beslag

dat jy sommer vir dié somer

– dol behep met sonneblomme –

twaalf goud-en-groen gestopte blompotte laat lewe

 

en ek is gek oor almal en nog meer

selfs die later sterlignagsipresse

met hul abnormale krulstam-semi-esse

en karinkelstrepe wat die maan omkring

en krukwiel ry

sodat dit lyk asof die besterde hemeldak vergaan

 

maar een ding moet ek nog verstaan:

 

dié besnydenis van die oor

wat jy doen met eie hande:

was dit ’n geskenk, ’n korbanofferande

of het jy toe al klaar te veel verdriet gehoor?

 

© Meyer van Rensburg, 2022

 

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*