Skotse Granny pine (Pinus sylvestris)
Knoestig verdraaid en erg verkrom
deur al die jare
sprei die antieke Skotse den
matriargale arms ver en wyd
terwyl die eeue aanpasseer
dekades en primaatgeslagte
se stryde en beproewings
dein in vlieswolkie-wentels
oor die Hoogland-woud.
Deur haar grootmoedertakke, keëls
en glansblougroen dennenaalde
– oor en weer gekruis, tartangeruit
teen persblou-en-wolkwit lug –
sing winde sussend wiegeliedjies.
Gerugsteun teen die growwe grysbruin stam,
raak mens vaak en lui,
sink weg, verwonderd, halfverdwaal
slaap kameleonties
in magiese metamorfose
een met plantseisoene, diere
en word in die dopeling-onderdompeling
van immergroen blare-skaduspel
bewus van die epog-oseaan
se eb-en-vloei-lewensappe
in haar kronkelende knobbelstam.
Eensklaps, in middel-lente,
bars droë dennebolle oop, gedetoneer
met ’n abrupte geknetter
wat die kalmte versteur
om saadeiers gevlerk te verspetter
en só nuwe lewens te verwek
dan sak die rustigheid weer neer
sodat die kroos kan groei,
verander en floreer:
onder haar geruite kiltsambreel –
haar leine croich,
’n tarlatantabberd –
evolueer generasies
van rooi eekhorings, nooiensuile,
dagsku vlermuise en ratels,
houtkappers, swartlysters, merels
blou loeries, skoenlappers, kwartels
en bye wat blomstof en eikels kan
geniet: vrylik voorsien
uit haar snoepery sporran
wildekatte, koperkleur slange, bont
reptiele, kewers, hope miere wriemel
al eras lank deur die getye
tussen haar duisend worteltone rond
en tog, en tog,
haar dae is nog steeds
onvolledig, onvoltooid
tot sy na sewe eeue eindelik
knakval en só begin
deel word van die klein kosmos
die hele korsmosgesin
wat sy so lank behoed
het dat termiete, ruspers, wurms nou
steeds oneindig op haar bly voed.
© Meyer van Rensburg, 2022