Erick Kästner: Vertaling van Duits in Afrikaans. Vert. deur Bernard Odendaal
‘n Gewilde, twintigste-eeuse Duitse gedig oor die liefde
Hierdie gedig is opgeneem in die bloemlesing Die Lieblingsgedichte der Deutschen (“Die lieflingsgedigte van die Duitsers”; Piper Verlag, München, 2003; 25ste oplaag, 2021).
Sachliche Romanze
Als sie einander acht Jahre kannten
(und man darf sagen: sie kannten sich gut),
kam ihre Liebe plötzlich abhanden.
Wie andern Leuten ein Stock oder Hut.
Sie waren traurig, betrugen sich heiter,
versuchten Küsse, als ob nichts sei,
und sahen sich an und wußten nicht weiter.
Da weinte sie schließlich. Und er stand dabei.
Vom Fenster aus konnte man Schiffen winken.
Er sagte, es wäre schon Viertel nach Vier
und Zeit, irgendwo Kaffee zu trinken.
Nebenan übte ein Mensch Klavier.
Sie gingen ins kleinste Cafe am Ort
und rührten in ihren Tassen.
Am Abend saßen sie immer noch dort.
Sie saßen allein, und sie sprachen kein Wort
und konnten es einfach nicht fassen.
- Erich Kästner (oorspronklik gepubliseer in die Vossiche Zeitung, 20 April 1928)
Saaklike romanse
Toe hulle mekaar agt jaar ken (heel goed,
dus – figure uit ’n veelgelese boek),
raak hulle liefde op ’n dag net soek.
Soos iemand anders se kierie, of se hoed.
Hartseer voel hulle, hou vrolikheid voor,
probeer soen-soen maak of niks makeer nie,
síén mekaar dan, byster geraak van spoor.
Toe huil sy. Hy staan; weet nie waarheen meer nie.
By die venster uit kon jy vir skepe wink.
Hy het gesê dit is al kwart oor vier
en tyd om iewers te gaan koffie drink.
Langsaan: iemand wat aan ’t oefen was – klavier.
By die naaste klein kafee gaan hulle sit
en roer die koffie om en om.
En tot die aand toe is daar so gesit.
Woordeloos het hulle so alleen bly sit
en wonder waar om aan begrip te kom.
- Vertaling deur Bernard Odendaal (15 Julie 2022)
’n Boeiende kontra-hantering van die verbroude-romanse-tema met hoe Kästner daaroor skryf in sy hierbo vertaalde gedig, vorm die volgende vers deur wyle De Waal Venter (uit: Vrugbeginsel, Naledi, 2021):
’n Onbevredigende romanse
Op die stoep
van die koffiewinkel
sit ’n vrou en ’n man
by ’n klein tafeltjie
en teug versigtig aan hulle mocca java.
Hulle is albei jonk
en dink daaraan om te trou,
maar nie met mekaar nie.
Hy merk dat sy haar ooghare pluk
en sy sien dat sy een duimnael nie heeltemal skoon is nie.
Met watter soort man sal sy trou?
En watter vrou sal by hom pas?
Vanaand gaan sy ’n man ontmoet
wat haar hart gaan laat inkrimp
met die pyn van liefde.
Môre gaan hy ’n vrou ontmoet
wat hom sal laat wegskram
wanneer sy aan hom raak,
weens die pyn van onthouding.
Maar nou gesels hulle gemoedelik,
elkeen besig in hulle gedagtes
met die rekenkunde van verwerping.