
Gastehuis op Vleiland
Vallei suid van Laingsburg. Vrugteboerdery
Voor die deur van die Seweweekspoort
irriterend naby, klipspat die bakkies
bestof die bome vaal in die perskeboord
anders was ons skemer ook koper, strakkies
téén Swartberg deur oerkrag uitgemaal
die laaste keerwal teen die Groot-Karoo
waar ’n mens nog vry kan asemhaal
en die geskiedenis van jou klippe glo,
sit ons op die gastehuis se stoep
vanaand hoor ons hoe in uiletaal
hekse versigtig na die sterre roep.
’n pand vir die besoek is integraal
by vertrek is die ganse Vleiland ingepak
met ’n net optelklippertjie in my broeksak
© Anton Dockel, 2022
