Anton Dockel. Tande
Tande
Samudrika shastra vertel jou fortuin uit die lippe en tande, letterlik die glimlag
I
Ek was lief om te glimlag
vanmôre weer,
wie kyk my aan?
’n taktlose spieël.
Wie se stomp geel tande
het in my mond kom plak
die glansende fortuin in my mond
verduister met stopsels
Oudword lyk op sy beste
deur skrefiesoë
in die dag
en terugskouend
in die nag
hardloop ek ligvoets
oor ’n grasperk sag soos dons
veerkragtig soos ’n binneveermatras
(ek het vergeet waar)
is ’n aanloopbaan om op te styg
en sweef met arms oopgesprei
asof op ‘n kruis gespalk
met vlerke aan die enkels
’n helm oor golwende hare
ek gaan nie val nie
so lig buite die lig – sonder
deure, hekke keer my nie
alle skarniere werk glad
(so lig sonder die jig )
Soos tande val tydgenote
weg
uit my lewensboekery
sal my weergawe
van my geskiedenis
uiteindelik haptand
maar onbetwis
alleen oorbly?
II
My nóú het die toekoms ingehaal
In snelvuur: studeer, trou, werk,
huiskoop, kinders, beloftes
bot, word ryp of vrot:
sagmoedig, humeurig, knorrig, lighartig,
verlig verkramp vrydenker rassis –
gryp en stop dit in die mandjie op my heup.
Aan die einde van die boord
skud ek my pluksel voor jou uit
en glimlag agter my hand
© Anton Dockel, 2022