Vanaand gaan die Volkies
“Men asleep are labourers and co-workers of what is going on in this world.” – Herakleitos
Die politici is denkende idiote,
die Ongesiene bly die grote –
Op die oppervlakte van die sigbare
dryf hulle intellektuele mastur – basies –
niks ander as slapende heertjies
wat
koring sny, koring sny –
Gesondheidsorganisasies het weifelende pote
die Ongesiene bly die grote –
My onderwater-beeld van jou
is suiwerder as jou skrander lyf
in baaikostuum
op Clifton se narrestrand,
my aptyt vir andermanskos – verlore –
in die bitterbessiebos.
Tegnologiese facebook despote
die Ongesiene bly die grote –
Maak die idiote-denkers dan die man?
Kan die weifelende pote
van die nuwe-wêreld(s)despote
ooit die eqilibrium herstel?
Die onsigbare harmonie, is hart
en al ons liefde hang aan die bos
al ons liefde hang aan die bos
al ons liefde hang aan
‘realiteit’
se donker bos.
Die Ongesiene bly die grote,
en vanaand,
gaan die volkies – se koring –
vry
koring vry –
koring vry.
© Bester Meyer, 2022