Venus Kriya
my oë het aan jou draadjies vasgehak
en dit help nie waar ek kyk,
ek kan nie ophou sien soos ek gesien
het toe ons teenoor mekaar gesit
en die stipstaar beluister het nie –
beoefen het, soos ou vriende se weg
na die waarheid en die lewe, wéét
soos geliefdes waarvan die onthou
nie wil ophou, nie wil skietgee nie.
is jy die vlerke waarvan my engel
gedroom het of is jy die engel van
my drome was moes kom vlieg
rondom die iris om deur die pupil na
binne te sweef asof ek jou al vir eeue
lank daar wou inroep, asem ek jou in
jy my uit: hoe mooi is jou bruin in my
blou oë, hoe vindingryk jou asem wat
myne ken: in-en-uit-hemelstango
met alles van ons wat verlore was
alles van ons wat nog moet gebeur
alles van ons wat deur die kriya krui
na die gedoem-doem van die groen
sentrum waar die geboorte reeds vol-
bring is: my hartschakra ‘n oomblik
joune – as my asem my laat snak
na alles wat alles
in eenvoud laat bewe, bestaan.
© Bester Meyer, 2022