Opruiming 19
Buzz Aldrin se ruimtebaadjie vir ‘n paar miljoen
opgeveil, daardie “second man on the moon”,
met die Amerikaanse vlag op die linkerskouer.
Daardie baadjie vervaardig met Beta-materiaal,
vuurbestand sodat Apollo 11 met Neil Armstrong,
Michael Collins en onse Buzz die maan kon betree.
Dit was 1969 en in Pretoria luister ons oor die radio
in verwondering hoe alles voetjie-vir-voetjie afspeel.
By die garage versamel ons munte vir ‘n plakboek.
Ons bysiende buurman se verkyker is van nut.
Agterna sê die ander oom met borselhaar dis sonde.
Nasa meng met God se plan ín met hierdie ruimtereis.
Nou leser, dink u wat mag kom: die maan “verdwyn”
mos maandeinde en dalk ‘n beeld van my anima?
Hierdie hemelse liggaam soms genoem die wit maan,
hierna die rooi maan en dan die swart, leë luna beweeg
boordensvol vol simbole en vlae in ‘n eb en vloed …
Hierdie byplaneet gesekel en gespoor gewaar
onder die rooi opkomende son in vliegkajuit:
al die sakramente van verlies en onthou saam-
gesnoer in ‘n andersoortige knipselboek.
© Joan Hambidge, 2022
