Joan Hambidge. Opruiming 18
Opruiming 18
In daardie opgemaakte film analiseer ek jou spel:
jy staan op toe ek jou kritiseer oor die gebruik
van verlede tyd, ek meen dit was Frans perdalks??
Jy haal jou bril af, kyk grootoog na my in die droom:
iewers hier staan jy op, onrustig oor my kritiek?
Of dat jy die verlede tyd as durend, ewiglik sien …
In die droom verder is daar ‘n outydse bad vol boeke
en die woord “sens dessus-dessous” skel in rooi.
Red wat te redde is uit hierdie holderstebolder film
voel ek in die vreesaanjaende droom:
met ‘n bad sonder water sodat reiniging on-
moontlik blyk te wees en elders in dieselfde droom
is daar ‘n fontein soos in Fellini se La dolce vita.
Jy was my Sylvia, vry en hedonisties, alles loop
deurmekaar in hierdie argief deurmekaargeskommel,
opgeteken in Frans en Italiaans soekend na Anita
Ekberg: haar naam uitgespoel in ‘n banier oor Trevi
se fonteine, beeldskone godin van die liefde vir ewig
dog wiegend op Nino Rota se dralende Arrivederci Roma.
Met vele munte in die fontein van liefde.
© Joan Hambidge, 2022