Digstring. Enkele vrae oor die oorsprong van ’n gedig
Prof. Marlies Taljard in gesprek met Johann Lodewyk Marais
’n Lewe
In die klein ryk van my vae kindertyd het ek kastele in die lug gebou en die son in die ooste sien opkom: oor riviere, vleie en heuwels sien skyn en in ’n hemelsblou middag verdwyn. Oral was die gees van my voorvaders, bloedverwante wat allengs vertrek het op ’n ander tog, durend, onkenbaar. Die tuin met rosette van dahlias, rose met hulle toevertroude lewe en ’n oorle ouma wat bly herrys in suurlemoenverbena se nageur. Maar die stem van dié wat eens geroep het na vryheid en geregtigheid was stil, of eggo plek-plek in ou patroondoppies, ’n skyfskietklip vergete in die gras en stories van ’n verlore oorlog. In die huis in ’n uithoek van die land het ek die wind in die bome hoor waai, geskrik as dennebolle op die dak val en ’n donker hand verbeel wat ruite hard in hulle houtrame laat ratel. By die kamer van die ademloses het ek meteens myself in die deurspieël van die swaar hangkas gesien en geken. ’n Vrou het my hand gevat, uitgelei na buite, op ryp duiwelsnuif getrap en my tussen skraal dennestamme my moedertaal uit die eerste mond geleer. In daardie dae het ons in ons spel tydloos na aan die grafte gelewe – die dooies nogmaals ter aarde bestel, ’n halfontbinde duif herbegrawe. In die veld het sy beesmis opgetel, versigtig geplak, en met haar vingers patrone in die nat miskoek getrek, en gekoes toe ’n miskruier opvlieg. In ’n klipskooltjie het ek op ’n lei onseker syfers en letters leer maak: in die klaarte en digtheid van syfers en die sinsbedrog van woorde verdwaal. Die wind het oor die berge opgesteek en om Skeurklip, Pelaan en Hlomisa gehuil en kilte en verdriet gebring. ’n Reis het begin na ander plekke, oorkant hierdie berge, waar die wolke laatmiddag soos aandblomme verskyn. Met my oog op ’n verweerde aardbol en ruwe kaarte van groot trekroetes het alles onherstelbaar begin kwyn.
Uit Nomade (2014) |
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Johann? Hoe het dit ontstaan?
Die gedig het ontstaan toe ek aan my negende bundel, Nomade (2014), gewerk het. Met die oog op die bundel het ek oor ervarings en belewenisse van en in Afrika geskryf (amper soos D.J. Opperman dit in sy onvoltooide Sonklong oor Afrika gedoen het), maar in enkele gedigte het ek na my plaaslike en grootliks landelike wortels in die Noordoos-Vrystaat teruggekeer.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
“’n Lewe” het uit tentatiewe eerste versreëls voortgekom, maar mettertyd het ek probeer om ’n outobiografiese “oorsig” van momente in my lewe te skryf. Die fokus val op my kinderjare op die plaas Sans Souci, wat die psigoanalitikus Carl G. Jung (1875–1961) as die eerste fase van ’n lewe sou beskou. Die gedig self is in die Jungiaanse vierde fase van my lewe, die middeljare, geskryf en gepubliseer.
Die konseptualisering van die gedig het redelik vinnig plaasgevind, maar die vormgewing was ’n uitdaging. Die gedig moes byvoorbeeld langer wees as die meeste gedigte wat ek skryf, maar moes nog steeds ’n intensiteit hê en nie sonder stutte wankelrig voorkom nie.
Daar is geografiese verwysings na die wêreld waarin ek grootgeword het en van die reëls betrek van my bestaande gedigte uit vorige bundels. Alhoewel dit gesien kan word as ’n gedig oor my eerste twaalf, dertien lewensjare, is dit geplaas binne die geografiese ruimte wat my lewe ten diepste beïnvloed het en waarmee ek my nog steeds en, in sekere opsigte, selfs toenemend deur historiese navorsing bemoei. Die titel is “’n Lewe” en maak dus aanspraak daarop om oor selfs meer as my kinderjare en dus voortgaande verwikkelinge te handel. In heelparty van my gedigte is daar weliswaar ’n biografiese “wending”.
Vreemd genoeg het die laaste dertien versreëls tydens die heel eerste skryfpoging tot stand gekom. Die ander dele was moeiliker, want ek het na essensiële dinge in my kinderjare gesoek wat my vorming as mens help bepaal het. Om ’n lewe of ‘n tydperk te probeer “opsom”, het N.P. van Wyk Louw al gesê, is moeilik en eintlik onmoontlik. Om die gedig te laat slaag, was dit nodig om essensies uit ander fases van my lewe te “betrek” én sekere dinge tussen die lyne te suggereer.
Tussen rose en dahlias op die plaas Sans Souci, distrik Harrismith (Foto verskaf)
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Die gedig is sekerlik deur jarelange ervarings vir my “gegee” en het op hierdie manier vorm aangeneem en selfs sy strukturele vorm gekry, maar die uiteindelike skryf en afronding van die gedig het baie inspanning en toewyding geverg. Ek wou die gedig so goed en veelduidig moontlik kry. Dit het baie aandag aan die versvorm, die woordkeuse en ritme geverg. En natuurlik nie net wat om in en by te sit nie, maar ook soos daardie Switserse beeldhouer, Alberto Giacometti (1901–1966), weg te neem, weg te kerf, weg te skaaf tot net dit oorgebly het wat regtig nodig was.
Hoe het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Ek het besluit om ’n lang gedig te skryf wat net uit een strofe bestaan om sodoende ’n soort intensiteit te bewerkstellig. Weer het ek die gedig in ’n vorm probeer giet waarin ’n reëlmatige aantal lettergrepe en sekere klankkwaliteit in die versreëls voorkom. Dit is tewens vir my belangrik dat ’n gedig visueel bevredigend moet wees (wanneer die gedig reg “lyk”, is hy gewoonlik min of meer “goed”), die grammatika korrek moet wees en die leestekens op hulle plek. Nee, ek laat my nie allerlei vryhede in my gedigte toe nie en in ’n sekere opsig hou ek my verbeelding in toom. Ek het baie van Wiskunde op skool gehou en my gedigte kom waarskynllik na aanleiding van ’n aantal goed ingeoefende stellings in my kop voort.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en met die persoon bespreek? Is daar iemand (of ’n instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?
Gedurende die vormingsproses is die gedig deur heelparty lesers onder oë geneem. Martjie Bosman was die redakteur van die bundel en het al die gedigte deeglik nagegaan en waardevolle voorstelle ter verbetering van verse en die samestelling van die bundel gemaak. My oudkollega by die RGN, dr. Lucie Möller, en latere kollega, Linda Maree, ken my werk baie goed en het die bundel ook deeglik deurgegaan en kommentaar gelewer en voorstelle ter verbetering gemaak. Baie spesifieke voorstelle ter verbetering van “’n Lewe” het ek van Johann de Lange gekry, wat baie moeite met die manuskrip gedoen het. Om op te som, ek is bevoorreg om kundige en gewillige lesers te hê, wat deel is van ’n literatuur wat ’n hoë prys op gehalte plaas en my help om meer gerus te wees teen die tyd wanneer ’n gedig of bundel gepubliseer word.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
As ek reg onthou, het die gedig die eerste keer op 7 Januarie 2014 op Versindaba verskyn, wat ek graag as vertoonvenster én werkswinkel vir die verdere afronding van gedigte gebruik. Voor ek gedigte in ’n bundel publiseer, het ek afstand nodig en druk die gedigte selfs in verskillende lettertipes om ander perspektiewe te kry. Ek luister ook graag wanneer van my gedigte voorgelees word. Digters weet verder hoe ánders hulle werk lyk wanneer die eerste proewe kom.
Kan jy ’n ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Ek het probeer om so noukeurig moontlik by “feite” te hou, al word dit in hierdie gedig in ’n sfeer van “fiksie” aangebied. Om by feite te hou, is ’n kenmerk van my skeppende skryfwerk. Om verslag te doen, op te teken en die gedig as argief vir bewaring aan te bied, is deel van my poëtiese projek. (Dit sluit aan by my huidige taak en fokus as historikus waar noukeurige hantering en interpretasie van bronne noodsaaklik is. In gedigte waarin historiese bewussyn aanwesig is, wil ek graag ten minste die feite laat klop. Ek het geleer om my verbeelding in toom te hou!)
Sans Souci, die plaas waar ek grootgeword het. (Foto verskaf.)
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Die gedig is ’n poging om my lewe en veral my kinderjare op te som, maar in Van Wyk Louw se woorde kan ek natuurlik beswaarlik “opsom”. Dit is dus ’n kort outobiografie, maar dalk selfs meer “veelseggend” as ’n tradisionele outobiografie. Ek weet nie, dalk gaan ek nog daardie outobiografie skryf. My historiese werk soos Die Platberg van Harrismith: ’n Geskiedenis (2021) en Mont Pelaan, Verkykerskop en Swinburne: ’n Kultuurgeskiedenis (2022) versteur in ’n mate die “misterie” van die wêreld waarin ek grootgeword het, maar dit is ’n verrykende ervaring vol allerlei nuwe belewenisse.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die totstandkoming van dié betrokke vers gelei het?
Benewens eie ervarings is daar in die gedig eggo’s van die werk van die Senegalese digter Léopold Sédar Sénghor (1906–2001), die Poolse digter Czesław Miłosz (1911–2004), N.P. van Wyk Louw (1906–1970), D.J. Opperman (1914–1985) en my eie vroeë gedigte. ’n Lesing wat die Duitse filosoof Hans-Georg Gadamer (1900–2002) in 1981 by die Universiteit van Pretoria gelewer het, het my van die belangrikheid van begrafnisrituele bewus gemaak. ’n Opmerking van die filosoof (later prof.) Johan Lamprecht in die vak Logika in die Filosofie II-klas by die Universiteit het gelei tot die reëls “meteens myself in die deurspieël/ van die swaar hangkas gesien en geken”. (Lamprecht het opgemerk hoe sy jong seun een keer voor die spieël gaan staan en gebloos het toe hy homself die eerste keer “raakgesien” het.) Die Algeryns/Franse filosoof Jacques Derrida (1930–2004) se gedagtes oor die gawe van die dood wat die lewe beperk én ook moontlik maak, het my opnuut na die dood en verganklikheid laat kyk. Ek keer deesdae oor verskillende onderwerpe terug na Derrida se boeiende geskrifte; en natuurlik ook Martin Heidegger (1889–1976), wat self ’n filosofie van die dood ontwikkel het.
Die begraafplaas op Sans Souci. (Foto verskaf.)
Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?
Nie noodwendig nie, want ek dink dat die gedig verstaanbaar behoort te wees vir enige persoon wat Afrikaans lees. Dit wil sê die lesers wat ek in gedagte het, is dié wat belangstel in my werk, in die soort onderwerpe waaroor ek skryf en sommer die Afrikaanse poësie in die algemeen. Ek veronderstel dat Afrikaanse digters en voornemende digters alles behoort te lees wat in Afrikaans gepubliseer word. Het Opperman dan nie een keer so ’n uitspraak in sy Letterkundige Laboratorium gemaak nie? Indien digters se werk nie meer gelees word nie, is daar wesentlike uitdagings waarmee ons rekening moet hou. Hoe ook al, sosiale media het gehelp om gedigte by meer mense uit te bring as wat in die verlede moontlik was en my gedigte kom op hierdie manier by heelwat “toevallige” lesers uit.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Tematies sluit die gedig by heelparty van my gedigte aan. Die gedig is wel een van my “langer” gedigte en moontlik in daardie opsig anders, maar ek glo nie dit is regtig ’n belangrike onderskeid nie.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Die gedig is Suid-Afrikaans in die sin dat dit ons min of meer herkenbare landskap, aspekte van ons kultuur en natuur ter sprake bring. In ’n sekere opsig handel die gedig oor ’n bepaalde wyse van lewe en verganklikheid; iets van ondergang wat ek ongetwyfeld in die Suid-Afrikaanse konteks ervaar.
Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Ek is gelukkig met die gedig. Oor ervarings soos dié in hierdie gedig sal ek sekerlik nog skryf en dimensies daarvan verder toelig. ’n Klompie dinge tussen die reëls verdien subtiele toeligting en herbesoek. ’n Mens moet jou ervarings en herinneringe so goed moontlik benut, al voel dit partykeer asof jy ’n “zama zama”-werker is! My pogings behels nie om alles in my werk gewoon duideliker te maak nie, maar om die werklikheid se “regmatige” kompleksiteit te suggereer.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Ná die gedig op 7 Januarie 2014 op Versindaba verskyn het, het Joan Hambidge, Marlise Joubert en Breyten Breytenbach positief gereageer. Joan het waardering gehad vir die “jeug, die plaas, herinneringe” soos dié wat in my debuutbundel, Die somer is ’n dag oud (1983), voorgekom het. Marlise het dit genoem “’n melancholiese gedig wat [haar] geruk” het en Breyten het dit “’n lieflike vers” gevind.
In sy resensie op Versindaba (26 Januarie 2015) het Tom Gouws van ’n “manjifieke sluitgedig” gepraat, in Tydskrif vir Letterkunde (52[2], pp. 244–245) het Susan Smith ’n deeglike en vir my baie verhelderende bespreking van die gedig gemaak, terwyl Marlies Taljard in Woord en Daad (56[432], 2015, p. 22) geskryf het: “In T.T. Cloete se woorde sou mens dit ʼn soort ‘oerbrei’ kon noem: die vrugwater waarin woorde, beelde, simbole en temas teenwoordig is van die talle digters en gedigte wat ʼn invloed op die skrywende subjek se digkuns uitgeoefen het. Dit is ʼn meesterlike gedig, een van die bestes in die digter se oeuvre!” Die reaksie op die gedig was positief en ek is nog steeds baie tevrede én gelukkig daarmee.
Johann Lodewyk Marais. (Foto verskaf.)
’n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ’n ietsie daarvan?
Oor my heel eerste vers het ek by ’n ander geleentheid gepraat. Dié gedig uit my st. 5-jaar aan die Laerskool Harrismith het oor ’n eerste liefdesverwondering gehandel. Die ektase waarmee daardie gedig ontstaan het, bly my helder by. Nog ’n vroeë gedig het oor ’n natuurtema, naamlik ’n roos (sic) gehandel. Ek vermoed ’n mens hou aan om in daardie vroeë trant te skryf, maar verfyn die vorm en temas en rond meer af. Maar ek is net nie seker of daardie oorspronklike ekstase nog herhaalbaar is nie, al het ek sedertdien reeds ’n klompie “beter” gedigte geskryf.
Johann Lodewyk Marais is op 21 Desember 1956 in Johannesburg gebore en het in 1975 aan die Hoёrskool Harrismith gematrikuleer. Daarna studeer hy aan die Universiteit van Pretoria waar hy in 2001 ’n D.Litt.-graad (cum laude) vir sy proefskrif oor Eugène N. Marais se wetenskaplike prosa verwerf en in 2013 ’n D.Phil.-graad in Geskiedenis oor aspekte van Kenia se geskiedenis sedert onafhanklikheid in 1963. Hy het vroeër onder meer ’n M.A.-graad (cum laude) oor opleiding in skeppende skryfwerk aan dieselfde Universiteit behaal en daarvoor die Marius Jooste-medalje verower.
Marais debuteer as skeppende skrywer met die digbundel Die somer is ’n dag oud (1983), waarvoor hy die Ingrid Jonker-prys kry. Hy skryf nog elf bundels, naamlik Palimpses (1987), By die dinge (1989), Verweerde aardbol (1992), Aves (2002), Plaaslike kennis (2004), Diorama (2010), In die bloute (2012), Nomade (2014), Insektarium en ander gedigte (2018), Ondertussen (2020) en Veldboek (2020). Vir Diorama het hy die SALA-toekenning vir Afrikaanse Poësie 2012 ontvang. Hy stel ook drie digbundels saam, naamlik Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, saam met die Amsterdamse digter en letterkundige Ad Zuiderent) en Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006). In 2003 verskyn sy eerste prosawerk, naamlik Lae wolke oor Mosambiek: ’n Reisboek en in 2021 Die Platberg van Harrismith: ’n Geskiedenis. In 2012 was hy Innibos se eerste feesdigter, waar die skrywer Chris Barnard ’n oorkonde aan hom oorhandig het.
Marais se Mont Pelaan, Verkykerskop en Swinburne: ’n Kultuurgeskiedenis verskyn later vanjaar en sy dertiende digbundel, Sirkelgang, word tans oorweeg vir publikasie. Hy is ’n navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Erfenisstudies van die Universiteit van Pretoria en werk tans aan ’n biografie oor die beroemde veekundige, prof. Jan Bonsma (1909–1991), wat die Bonsmara-beesras help ontwikkel het. |
Boeiende gesprek – en die gedig voortreflik.
‘n Pragtige vers wat onafwendbaar op daardie slot afstuur, asof alles beleef en ervaar mens gereedmaak vir daardie slotbesef. Bespook deur Louw se “Beeld van ’n jeug: duif en perd”, die lang vers waarmee hy Nuwe Verse afsluit
Die klein ryk van die jeugherinneringe mooi saamgesnoer in ‘n ars poetica.