
Sanctum. Deur Joan Hambidge. 2022. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-4853-1340-3.
Resensie: Bernard Odendaal
Ná twee digbundels van haar in 2021 die lig gesien het, naamlik Konfessies, kaarte en konterfeitsels en Nomadiese sterre, kom Joan Hambidge vanjaar met, as ek korrek getel het, haar ses-en-twintigste vorendag (gepubliseerde keure uit haar digwerk nie ingereken by dié groottotaal nie).
Die Latynse term wat as bundeltitel dien, Sanctum, slaan op ’n heilige plek. In die alleenstaande titelgedig word die “Huis van die Vader” as die ultieme tuiste uitgelig:
My moeder, die tuinier-met-groen-vingers
en my vader, die man-van-versekering, leer my
jou huis is tydelik, temporeel, behalwe vir daardie
Huis-van-die-Vader, buite tyd of verdriet.
Vroeër in dié gedig word egter ook ’n verband getrek tussen sodanige religieuse tuiste en die poësie:
In die huis van Onse Vader is daar glo
vele wonings nes in die huis-van-die-digkuns
met sy vertrekke en stansas en rondele.
Ook die bundelmotto, ’n aanhaling uit N.P. van Wyk Louw se Tristia, versterk sodanige verbandlegging: “Die groot Tempel, die aktiewe Woord”. Dieselfde geld die handmotief, opvallend gemaak deurdat ’n foto van ’n beskrewe mensehand as voorplatkunswerk benut word, terwyl ʼn vervaagde foto van ’n onbeskrewe hand dien as agtergrond waarop die nommers en titels van die bundelafdelings gedruk staan. “[D]at elke hand ’n storie vertel / [staan] reeds opgeteken in Job 37:7”, lui dit in die gedig “Pyn het glo geen vervaldatum”. In die 2020-Bybelvertaling staan daardie vers uit die boek Job soos volg verwoord: “Die hand van elke mens verseël Hy, sodat alle mense sy handewerk kan leer ken.”
Digkuns, dus ook digterskap, en die strewe na die vind van ’n religieuse geborgenheid word op al hierdie wyses aangekondig as waarskynlik die leidende temapaar in Sanctum. In die titelgedig word egter ook die verhoudings tussen digter en leser en tussen die “ek” en haar oorlede ouers as deurlopende motiewe in die bundel aangedui. Beide dié verhoudingsmotiewe word as geproblematiseerd – en van wisselende aard – geteken, soos dikwels voorheen in Hambidge se oeuvre. Aangaande eersgenoemde verhouding word in die titelgedig soos volg getuig:
My gedigte uitgelewer aan ongesiene lesers,
huiskopers besigtig dit dalk met ’n agent,
uit verveling of afguns, met ’n Te Koop–
bordjie as uitnodiging vir verskuiwing of verplasing.
In ewewig met dié ervaring van “uitgelewerdheid” aan die leserspubliek staan die opdrag van die bundel aan, onder meer, “al die aangesprokenes”. (Die leser word meermale aangespreek in die bundel.) Ook “JdL”, ’n afkorting van die naam van Hambidge se vriend en digkunsvertroueling Johann de Lange, en die name van Hambidge se bure wat haar onderskraag het tydens die ingeperktheid wat die Covid19-pandemie teweeg gebring het, word in die opdrag genoem.
Die menslike sterflikheid, ook haar eie, asook die geweldbedreigings wat ons werklikheid kenmerk, en die wyses waarop gestreef kan word om dit te transendeer of te besweer, domineer die tematiek van die eerste afdeling. In die gedig “Die waarheid oor duiwe”, waarin die relatief onlangse afsterwe van die Afrikaanse digter Gisela Ullyatt en van Hambidge se voormalige studieleier Henning Snyman gedenk word, word tot die volgende konklusie geraak: “die dood drievoudig / onverstaanbaar”. Die verlange van die digter om kontak te kan opneem met haar gestorwe ouers (veral haar moeder), asook met ander geliefdes, word in meerdere gedigte in dié afdeling, soos in die opvolgende ses afdelings, onder woorde gebring. In “Komorebi”, ʼn Japannese titelwoord wat luidens die verklarende aantekeninge agterin die bundel die skaduspel tussen lig en blare aandui, maar ook ’n melancholiese verlange na ’n plek of persoon uitdruk, staan dat die digter voel soos een
wat die pen verloor het
tussen donker en lig
op ’n ander kontinent
tussen 9/11 en Poetin[.]
Kwesbaarheid en verganklikheid is die aandringende werklikhede wat die digter, as digter én mens, wens te besweer of te oorkom. Drie wyses staan, luidens die gedigte in die openingsafdeling, voorop in hierdie verband: reis (ook in die gees, byvoorbeeld in die vorm van herinneringe), religieuse wyding (verskeie godsdiensbeskouings kom ter sprake) en die (beoefening van die) digkuns. ’n Gedig waarin die eerste twee genoemde wyses figureer, is “My pa sluit die deure twee keer”:
Twee keer altyd
tjekkereer my pa
die voordeur voor
ons na iewers vertrek.
Presies twee keer:
my pa tjekkereer
die slot van die deur
voor ons uittjek.
Geen bose magte betree
ons huis omdat my vader
presies ja presies twee keer
praat met sy hemelse Vader.
Wat die digkuns as beswerende sanctum, as “woordtempel” (“Gandhi se huis”) betref, is dit nie net die eie werk wat as middel daartoe dien nie, maar ook die werk van ander. Intertekstuele verwysings en toespelings, asook aanhalings, deurspek, op ’n wyse wat besonder kenmerkend van Hambidge se oeuvre is, talle gedigte in hierdie én die ander afdelings van Sanctum. In “Die tarot voorspel” en “Peru” word die woordkunstenaar selfs as ’n soort towenaar voorgestel – maar nie sonder om die prekêrheid van sodanige strewe uit te druk nie. “Die digtende towenaar / voorspel by nabaat”, besluit laasgenoemde gedig.
Vanweë die feit dat die meeste van die gedigte in Sanctum in die afgelope pandemietyd hulle ontstaan gehad het, word die ervarings, waaronder reise, wat in die tweede bundelafdeling beskryf of uitgebeeld word, in die vorm van herinnerings en/of die digterlike woord beleef. Die internet moet soms sulke herinneringstogte onderskraag, soos uitgedruk in die gedig “Google Earth”, waarvan die drie slotstrofes soos volg lui:
Nou in Covid-tyd
word reis ’n herinnering
’n virtuele direktief.
In hierdie distopie
mis ek die geluide van voëls,
’n dieretuin of park
Immer tekens van lewe in ’n stad.
Pompeji is lankal reeds ’n monument.
Die lesersrol in die poëtiese betekenisstigting-proses, ook vir die digter dus, word erken in ’n gedig soos “Totem”. ʼn Treffende gedig oor Hambidge as mens én oor haar digpraktyk is ook by hierdie afdeling ingesluit:
Inkarnasie
Deesdae betrap ek myself al hoe meer
dat ek my moeder hoor wanneer
ek skryf: ongeduldig, op die punt af.
En soos my vader liasseer en bewaar
ek dokumente, papiere, strokies
daagliks weekliks jaarliks in hierdie opgaar.
Die een het altyd gesnoei, georden;
die ander een het uitgebrei, uitgepak.
Die optiek van hierdie inkarnasie
bring my onverwyld te staan voor
ʼn aweregse ars poetica van indrukke,
reise en traktate versamel vir oppak
in ʼn vers sonder afdraaie of selfbelang.
Herinnerings en besinnings aangevuur deur die benouende, beproewende Covid-tyd funksioneer eweneens as bindingselement in afdeling drie. In “Bethlehemster” word byvoorbeeld gefantaseer dat, indien die drie wyse manne uit die Ooste in die afgelope pandemietyd sou moes reis om die Christuskind en sy aardse ouers te besoek, hulle nie wierook, goud en mirre as geskenke sou bring nie, maar wel ʼn “antidoot // téén die kroon van siektes”. Die Amerikaanse dramaturg en draaiboekskrywer Tennessee Williams se lewe en werk maak ʼn belangrike verwysingsveld in enkele gedigte uit hierdie afdeling uit.
Die middelste van die sewe afdelings is ook die omvangrykste van die bundel. Poësie oor die poësie oorheers daarin: aangaande die besweringsmoontlikhede, al dan nie, wat dit bied teen verlies weens afsterwing van geliefdes of weens die mislukking van liefdesverhoudings, of teen die tol wat eietydse geweldpleging en rampe eis. Van laasgenoemde is die brande wat bekende kultuurerfenisse die afgelope paar jaar in puin gelê het, soos ter sprake gebring in die gedigte “Swart April 2021” en “Timpanum”, voorbeelde. Die laaste drie strofes van laasgenoemde gedig klink so:
Hierdie fronton
in my gedig aktiveer
verlede, hede, toekoms.
Die Notre Dame
soos die Jagger-biblioteek
se dakke
sluit
ʼn sarkofaag
in herinneringsbesoeke.
In gedigte soos “Pensionaris” (Hambidge het onlangs afgetree as hoogleraar aan die Universiteit van Kaapstad) en “Stansas” neem die digter haar eie skrywersloopbaan in oënskou. “Ruie tuin” en “Pernambuco” verteenwoordig huldigings van Afrikaanse digters, onderskeidelik Olga Kirsch en C.F. Rudolph, wie se rolle in die Afrikaanse poësieveld dreig of gedreig het om onderwaardeer te word. Die “geroeste motor in die agterjaart” van die bure, waarin die “ons” van die gedig “Verdigris” as kinders gespeel het, asook ander “ou tjorre” in ʼn skrootwerf word as moontlike “simbole / beelde van dié tyd van stilstand” aangedui – maar sou, binne die konteks van die poëtika-tematiek van die afdeling, ook as metafore van sulke digterskappe gelees kon word.
Vandaar dat die erkenning wat in “Repatriasie van die pyn” aan die lesersrol in die werking van die digkuns gegee word, meer bevat as net poësieteoretiese implikasies (laasgenoemde onder meer opgeroep deur die vermelding van die literator Wilhelm Liebenberg by die gedigtitel). Enkele grepe uit die gedig:
Ek het jou begrawe
in die vlak graf
van ʼn gedig, leser.
[…]
Leser, jý,
sien saam met my
[…].
ʼn Gedig behoef jou, leser,
om dié proses volmaak
te navigeer.
Ek grawe jou op,
Ideale Leser […].
Die opvallende benutting van ʼn aantal meer of minder bekende (geykte) digvorme, en waarin herhalingspatrone meermale opval, onderskraag die vooropstelling van poëtikale besinning in dié sentrale bundelafdeling. Soms herinner die toon van sulke gedigte aan die ritualistiese besweringspogings wat sekere religieë kenmerk. “Sancire”, waarvan die titelwoord heiligmaking of wesensbevestiging aandui, open só:
Waaroor trauer en treur?
Waarom rou en melancholie?
Wat is verloor en wat is gewen?
langdurig, langsaam
in hierdie sanctum
word die proses nooit afgehandel
nie, disparaat en desperaat
oor woorde se onvermoë
om presies op te som,
vas te vat, neer te pen […].
Deurbreking van die vormverwagtinge wat die benutting van sulke geykte vorme in die hand werk, word dan ook by geleentheid funksioneel aangewend om die ongeslaagdheid of vergeefsheid van dergelike transendering- of besweringspogings te help suggereer. Die tweede gedig in die afdeling is al ʼn voorbeeld hiervan, én dit betrek die lesersdeelname aan die effekte van voldoening, al dan nie, aan vormverwagtinge.
Omgekeerde sonnet
Ek het jou toegelaat, meer as een keer,
Om my hartstogtelik te verrinneweer.
Dié sonnet, onafgelewer, ʼn nabootsing
soos ʼn onafgelewerde DHL-versending.
Niemand tuis, nes die leser, ingekeer
besig om rympatrone uit te keer.
Op watter dag, tyd of plek
het die hart haar ingeperk?
Is daar ʼn onthou- en beroukaart
om so iets presies uit te klaar?
ʼn Tirannie van die Verlede
word ʼn oopbreek in die Hede.
Die gedig slaan toe, vervaard.
Openlike of verskuilde (self-)satirisering in gedigte soos “Gulliver” en “Onomastikon” dien verder tot relativering van die digterlike beswering- en transenderingsintensies.
Die laaste drie bundelafdelings dra titels, wat vanself spreek oor die aard en inhoud van die gedigte daarin. Met die “Lykdigte” van afdeling vyf word voortgebou op ʼn skat aan gedenkgedigte by die afsterwe van medekunstenaars en ander persone van openbare belang in die oeuvre van Hambidge. Die verse in afdeling “VI Ekfrase” verteenwoordig ʼn belangrike aanvulling tot ʼn ander gedigsoortversameling in haar digwerk: beeldgedigte. Hierdie afdeling se gedigte is geskep in reaksie op ʼn drietal beroemde skilderye deur die sewentiende-eeuse Spaanse skilder Diego Velázquez, en na aanleiding van ʼn houtsneewerk deur die Suid-Afrikaanse kunstenaar M.C. Escher. Sulke ekfrastiese gedigte getuig, tesame met die talle verwysings na en toespelings op films in Hambidge se digwerk, van van belangstelling in visuele kunsvorme.
Sanctum word afgesluit met ʼn sewende afdeling wat gedigvertalings bevat, naamlik van Sylvia Plath se “Oggendlied” (oorspronklik: “Morning Song”) en C.P. Kavafy se “Ithaka”. Laasgenoemde vertaling deur Hambidge, waarvoor sy die Engelse omsettings deur Edmund Kealy en Philip Sherrard as brontekste moes benut, is al voorheen in Afrikaans omgedig. Uys Krige se poging uit 1972, later ingesluit by die keur uit sy artikels en praatjies Die naamlose muse (geredigeer en ingelei deur J.C. Kannemeyer as redakteur), is onderneem in samewerking met die Griekssprekende Konstatyn Sava, terwyl dit nie duidelik is watter bronteks(te) Johann de Lange benut het in sy “Ithaka”-vertaling wat in 2011 op sy webblog Kaapse paragrawe gepubliseer is nie. Cas Vos , wat die voordeel het dat hy uit die oorspronklike Grieks van Kavafy kon vertaal, se weergawe het in sy 2015-digbundel Voor-bode verskyn. Interessante vergelykingsmateriaal – maar vir ʼn ander dag.
’n Vrugbare en gedeë digter is Hambidge ongetwyfeld. En Sanctum getuig opnuut hiervan. Dít, tesame met haar rolle as begeleier van skryfkunsstudente en as onvermoeibare resensent van nuwe digbundels (om maar twee van haar literêre aktiwiteitsterreine uit te lig), verseker dat sy ʼn kragtige teenwoordigheid in die Afrikaanse poësiewêreld bly.
