My bed as Rorschach-toets
My bed verklap nademaal:
‘n blou moskee soos Istanbul
dalk ‘n katedraal in Wene
of uit Zanzibar iets Anglikaans?
Jy, ek, ons op besoek daar;
lakens verfrommel, registreer
die liefde-as-aanbidding
vir sommige agape …
Jy verwyt my vir filautia
en sedert jou vertrek,
lank en verdomp uitgerek,
besing ek soos ‘n monnik
die kleure borriegeel en saffraan
vir my tuniek en beddegoed
in my klein tempel-van-aanbidding
weg van jou die psigoanalis.
© Joan Hambidge, 2022
