
Baie geluk aan Clinton V. du Plessis, die wenner van vanjaar se AVBOB Poësieprys in die kategorie AFRIKAANS
Lees die wengedig hieronder:
Leemte
25 jaar gelede: jou vertrek
steeds verlang ek om weer
kniehoogte neffens jou te stap
die stil sekerte van jou aanraking op my hoof
ek, kaalvoet, kortbroek
my hand in joune as ons ’n straat sou kruis
hierdie land was ’n ander plek, Pa
ons stoor nou drome in trommels in buitekamers
die bome wortel krake in die oprit langs ons huis
tog onthou ek jou, soos die omslag van ’n spesiale boek
ek het ’n skildery van jou ou foto laat maak,
geraam, jy pryk op die lys, bo die kaggel
dwarsdeur hierdie winter gloei die kole
maak ons verbete warmte, maar
hierdie huis is ’n ander plek, Pa
en ek?
Ek is ’n stoker, sonder lokomotief
’n roepman, sonder skofkaarte
’n kondukteur op ’n spooktrein
’n vergete passasier op ’n koue donker plein.
Ek wag vir jou, met jou jas en my tas.
Clinton V du Plessis


Baie dankie, Ronel en Joan.
Baie geluk Clinton. Aangrypende vers.
Veral die slot:
Ek is ’n stoker, sonder lokomotief
’n roepman, sonder skofkaarte
’n kondukteur op ’n spooktrein
’n vergete passasier op ’n koue donker plein.
Ek wag vir jou, met jou jas en my tas.
Hartlik geluk, Clinton, met jou prys vir hierdie treffende gedig.