I
Die Dora-gevallestudie. Opgeneem in Volume 8 van die Freud Pelican-reeks. Die teks wat ‘n bepalende invloed gehad het op D.M. Thomas se briljante roman The White Hotel.
In 1981 het hierdie leser die Dora-teks begin bestudeer en in 1993 ‘n kursus aangebied oor die komplekse geval van histerie.
Dora, oftewel Ida Bauer (1882 – 1945), is deur Freud behandel vir histerie ongeveer elf weke lank in 1900. Haar histerie manifesteer as ‘n verlies aan spraak.
Dit is egter in die nawoord wat die waarheid oor Dora na vore kom: haar wraaksug en moontlike lesbiese aard. En uiteraard die rol van die goewernante.
Die Dora-geval is kompleks en handel oor ‘n jong meisie wat voel haar vader kul haar en het ‘n verhouding met ‘n vriend se vrou. Sy word die “object of barter”. Dit is dan ook ‘n studie oor leuens (misleiding / verleiding) en hoe die jong Dora gefnuik voel. Sy voel haar vader het haar “oorhandig” aan sy vriend sodat hy by die vrou kan wees. Die gevallestudie is in 1905 gepubliseer.
Die hele kwessie van ruilhandel word uitstekend deur Jane Gallop behandel in The Daugther’s Seduction. Feminism and Psychoanalysis.
Is Dora ‘n slagoffer of heldin? ‘n Kwessie wat Gallop behandel oor die gesprek tussen Cixous en Catherine Clément (1982: 132, 133). ‘n Heldin vir Cixous en Gallop, meen ek, wil eerder wys op haar ambivalensie: ”Yet rather than assume the ambiguity, the two writers themselves become polarized as advocates of either the hysteric as contesting or the hysteric as conserving” (1982: 134).
Vir hierdie leser is ambivalensie tersaaklik. Sy mag histeries wees, maar sy kla. En verder word sy stemhebbend gemaak deur al die verskillende tekste wat al oor haar gepubliseer is.
II
Die twee drome van Dora:
Droom 1
[a] house was on fire. My father was standing beside my bed and woke me up. I dressed quickly. Mother wanted to stop and save her jewel-case; but Father said: ‘I refuse to let myself and my two children be burnt for the sake of your jewel-case.’ We hurried downstairs, and as soon as I was outside I woke up. (1977: 99)
Die juwelekissie, in Freudiaanse terme, is ‘n verwysing na die seksuele. In Freud se droom-analises wys hy daarop dat ons altyd van die self as ‘n huis droom. In sy analise van die droom verwys Freud ook na haar erkenning van masturbasie as ‘n jong kind (1977: 110). Freud self erken dat hy nie hierdie droom volledig kan begryp nie en dat ons altyd sal besig wees met “framing conjectures” en “filling in deficiencies” (1977: 122).
Later skryf hy dat Dora moes wegvlug uit hierdie huis waar haar maagdelikheid bedreig word. Sy het bedreig gevoel deur haar vader se vriend en gevoel dat die vader haar uitgelewer het aan hom.
Schmuckkästchen aldus Freud, is die woord vir intakte vroulike geslagsorgane (1977: 130).
Droom 2
I was walking about in a town which I did not know. I saw streets and squares which were strange to me. Then I came into a house where I lived, went to my room, and found a letter from Mother lying there. She wrote saying that as I had left home without my parents’ knowledge she had not wished to write to me to say Father was ill. “Now he is dead, and if you like you can come.” I then went to the station and asked about a hundred times: “Where is the station?” I always got the answer: “Five minutes.” I then saw a thick wood before me which I went into, and there I asked a man whom I met. He said to me: “Two and a half hours more.” He offered to accompany me. But I refused and went alone. I saw the station in front of me and could not reach it. At the same time, I had the unusual feeling of anxiety that one has in dreams when one cannot move forward. Then I was at home. I must have been travelling in the meantime, but I knew nothing about that. I walked into the porter’s lodge, and enquired for our flat. The maidservant opened the door to me and replied that Mother and the others were already at the cemetery.
(1977: 133)
Waarskynlik kan hierdie droom gelees word as ‘n begeerte dat die vader wat haar abandon en gekul het, moet sterf?
Freud lees die Bahnhof (stasie) en Friedhof (begraafplaas) as representasies van haar geslagsdele (1977: 138). Die thickwood is die pubiese hare.
Sadistiese wense kan net in drome uitgeleef word (1977: 152 – voetnoot).
Freud se Dora inspireer hierdie gedig:
Opruiming 18
In daardie opgemaakte film analiseer ek jou spel:
jy staan op toe ek jou kritiseer oor die gebruik
van verlede tyd, ek meen dit was Frans perdalks??
Jy haal jou bril af, kyk grootoog na my in die droom:
iewers hier staan jy op, onrustig oor my kritiek?
Of dat jy die verlede tyd as durend, ewiglik sien …
In die droom verder is daar ‘n outydse bad vol boeke
en die woord “sens dessus-dessous” skel in rooi.
Red wat te redde is uit hierdie holderstebolder film
voel ek in die vreesaanjaende droom:
met ‘n bad sonder water sodat reiniging on-
moontlik blyk te wees en elders in dieselfde droom
is daar ‘n fontein soos in Fellini se La dolce vita.
Jy was my Sylvia, vry en hedonisties, alles loop
deurmekaar in hierdie argief deurmekaargeskommel,
opgeteken in Frans en Italiaans soekend na Anita
Ekberg: haar naam uitgespoel in ‘n banier oor Trevi
se fonteine, beeldskone godin van die liefde vir ewig
dog wiegend op Nino Rota se dralende Arrivederci Roma.
Met vele munte in die fontein van liefde.
III
Die voorblad van D.M. Thomas se roman The White Hotel bevat ‘n brandende vrou (op my 1981 uitgawe). Ander weergawes gee die hotel weer met ‘n naakte vrou. (Bewuste teenoor onbewuste.)
Die inhoudsopgawe:
Prologue
I Don Giovanni
II The Gastein Journal
III Frau Anna G.
IV The Health Resort
V The Sleeping Carriage
VI The Camp
‘n Fiktiewe pasiënt van Freud, ene Frau Anna G., ‘n opera-sangeres, word vir psigomatiese simptome behandel. Don Giovanni verwys na Mozart se bekende opera van 1788, ‘n verhaal van verleiding, gebaseer op ‘n Spaanse legende. Tirso de Molina se drama El burlador de Sevilla convidado de piedra van 1630 is die verhaal waarop Mozart se opera inspeel.
Daar is briewe, ‘n opera in digvorm, ‘n derdepersoon-vertelling, ‘n coda (wanneer al die karakters in die hemel ontmoet en geluk ervaar).
Die verhaal gee die seksuele ervarings weer van hierdie vrou wat ‘n grensoorskrydende avontuur met ‘n soldaat beleef op ‘n trein. Dit word in die opera vertel in digvorm. (Thomas is ‘n bekende digter).
Die man blyk later Freud se seun te wees. Saam vertrek hulle na ‘n hotel waar etlike ellendes die hotel tref.
Don Giovanni word verweef met ‘n lang erotiese fantasie. Freud vra haar om te verduidelik hoe sy voel en ons lees dit in die Gastein Journal.
Thomas draai Freudiaanse diskoers op sy kop in hierdie roman: dit gaan nie oor iets in haar verlede nie, maar dit wat nog in die toekoms mag en sal afspeel.
Ook hier is ‘n vaderfiguur wat onbetroubaar is. Frau Anna G. blyk ene Lisa Erdman te wees, woonagtig in Wene. Die dubbel-identiteit speel in op Freud wat skuilname vir sy pasiënte gegee het.
Lisa het in Odessa grootgeword: haar vader is Joods en afwesig; haar moeder Katoliek. Sy vermoed dat haar moeder ‘n verhouding het met haar tante se man. Die moeder en haar minnaar brand in ‘n hotel (hierom waarskynlik die brandende voorblad van my uitgawe).
Sy vertrek hierna na St. Petersburg word swanger by ‘n minnaar (wat haar verlaat). Sy verloor die kind. Sy word versorg deur haar tante, Tante Magda (haar moeder se tweelingsuster) en haar Russiese onderwyseres. In Wene begin sy ‘n loopbaan as ‘n sanger waar sy trou met ‘n man met anti-Semitiese sentimente. Haar histeriese simptome manifesteer as asemnood en pyn in haar linkerbors en pelvis.
In Milaan word sy ‘n operasangeres en staan in vir ene Vera Serebryakova-Berenstein.
Vera en Victor het ‘n seun, Kolya wat Lisa versorg na sý moeder se dood.
Lisa Erdman verlaat Oostenryk vir Kiëf in 1922.
In hierdie landskap beleef sy intense ellende en die impak van die Kommunisme. Haar man, ‘n Jood, verdwyn en in 1941 wanneer die Duitsers hierdie stad binneval, word sy en haar kind na Babi Yar gestuur.
Verskillende Freud-gevalle word hier saamgesnoer met briljante toespelings op die politieke kwessies wat Freud moes hanteer soos die Tweede Wêreldoorlog en die holokaust. Telepatie en die idee dat die onbewuste nie aan tyd of plek gekoppel is nie, vorm deel van die vertelling wat elke leser anders sal weergee, omdat die verhaal nie chronologies begryp kan word nie.
‘n Ongelooflike roman wat verskillende verteltegnieke saamsnoer en nou met ‘n herlees inderdaad ‘n augury is oor wat ons nou beleef.
Die roman aktiveer eweneens verdere dubbeldiskoerse: die moeder het ‘n tweelingsuster; Freud dink Lisa is biseksueel. Een Operasangeres neem ‘n ander se rol oor. Sy word ook die stiefmoeder van Vera se seun, Kolya.
Thomas teenoor Freud. Dora (o.a.) wat aanwesig is in hierdie roman.
Freud self moes Wene verlaat weens die Nazi’s se binnetrede van Oostenryk.
https://blogs.loc.gov/loc/2019/09/freuds-last-days-in-vienna-as-nazis-approached/ Besoek 23 September 2022
Ongeveer 80 jaar gelede, presies op 23 September wat ek hierdie artikel skryf, is Freud oorlede. Freud sterf in 1939.
Die Unheimliche wat Freud so uitmuntend beskryf het, kom duidelik na vore wanneer ‘n mens nou Dora en D.M. Thomas lees.
My roman val al uitmekaar – soveel kere het ek dit herlees. Aangekoop in 1981 teen R1.75.
Thomas erken dat hy volumes 3, 8 en 9 geraadpleeg het.
Die roman begin met ‘n brief geskryf op 8 September 1909 met briefwisseling tussen psigoanaliste. Met Ferenczi wat verwys na die spanninge tussen Freud en Jung tydens hul reis na die VSA. Dit verwys na Freud se afwysing van Jung se verhouding Sabina Spielrein, wat eweneens vermoor is deur die Nazi’s.
Spielrein, die eerste vroue-psigoanalis (1885 – 1942) was een van die eerste teoretici wat oor die doodsinstink geskryf het en vanuit ‘n feministiese perspektief geteoretiseer het.
Wanneer Frau Anna G. bely: ”I was split open/by your son/Professor” kan ‘n mens die implisiete verwysing na Jung en Spielrein raaklees. Daar was ‘n vaderverhouding tussen Jung en Freud.
Die briefwisseling dui op die fantasie van die werklike outeur D.M. Thomas wat die leser neem na die briewe tussen Freud en Jung. Hulle verskille oor godsdiens word ook hier uitgewys met Jung wat meer spiritueel na die menslike psige kyk as Freud.
Die roman is ‘n verbysterende samesnoering van feit en fiksie; geskiedenis en fantasie.
IV
Cixous se interpretasie van Dora word ‘n dramatiese teks waarin sy die manlike orde en Freud se siening van die oorheersing van die manlike diskoers ondermyn en problematiseer.
In Thomas se roman vra Freud toestemming van Frau Anna G. om haar gevallestudie te publiseer. Sy verskil egter van Freud se interpretasie van haar lewe.
Hiermee sien ons dus dat die vrou – soos in Cixous se drama – die patriargale orde verwerp.
‘n Laaste woord aan Freud: die onvermoë om ‘n werklike erotiese begeerte uit te leef, is onderliggend aan en een van die wesenskenmerke van neurose.
Joan Hambidge
September 2022
Bibliografie
Cixous, Hélenè. 1976. Portrait de Dora. Michigan: University of Michigan.
Clément, Catherine met Cixous, Hélène. 1975. La jeune née. Union Génerale d’Editions, Collection 10/18.
Freud, Sigmund. 1977. 8. Case Histories I “Dora” and Little Hans”. Londen: Pelican.
McGuire, William. 1974. Freud-Jung Letters. Princeton: Princeton University Press.
Gallop, Jane. 1982. The Daughter’s Seduction. Feminism and Psychoanalysis. Cornell: Cornell University Press.
Thomas, D.M. 1981. The White Hotel. Londen: Penguin.
‘n Opsomming van die verhaal:
https://www.supersummary.com/the-white-hotel/summary/ Besoek 23 September 2022
Odesassa moet lees Odessa.
Jammer!