SLUIS
Die dobberende boot, nou los van toue
en kettings aan die Moskouse kaai, vaar
die skemer gladweg noordweswaarts in,
op die donker einde- en oewerlose stroom
tussen oewers bos, byna ondeurdringbaar
– berke, beuke, den? – en vervalle
dasjas, gehuggies, sytakke, hengelaars,
eindeloos as die dag donker wegsink
en jy deur die obsessiewe klavierparty
van “Auf dem Wasser zu singen” begelei
op golwe van jou oorlaaide brein weggly,
tot iewers in die swart nag die wankende Kahn
skielik met ’n ruk in onvermoede dieptes
stort, hidrouliese gedonder jou klipswaar
laat versteen, totdat die brose vaartuig stabiel
en moeiteloos weer op die stil kanaal voort vaar.
© Martjie Bosman, 2022