Pas de deux
Die ekstase van taal
wel uit die tongval
wanneer asem oor asem
die lippe bespeel
soos die oplig en vashou en vang
van ‘n dansende paar.
Deur die polsslag van sinne
word klanke met ritmes bevrug
tot flikkeringe van betekenis
wat die passies en spronge
van ‘n durende pas de deux
in werwelende taal bewaar.
© Zandra Bezuidenhout, Sept. 2022
