Vuurvlieglusiferase
(vir Rupert Brooke :“…and is there honey still for tea?)
Dié besie-lampe
is fosforskyn
wat aan/af blink
en bedags verdwyn
maar hul liefdesgloed
sal saans steeds wink:
soos nagmusiek
wat bly weerklink
vir hul kort bestaan
– ’n twee-maand-vlug –
word dou en nektar
tot boodskapflits verlig
in jóu vlugtige
vlinderlewe
is Grantchester se nektar-dou
tot glinsterverse uitgebou
al slaan die klokslag reeds
kwintessens die elfde uur
het jy die dood bedrieg
dit ingekort en bekonkel
toe jy opeens klankryk besef
dat jou sprankellig onthou kan word
as sterskyn wat die son oortref;
vegtend vir ’n edel land om in te rus
vind jy ’n hoekie in die vreemde
wat nou vir altyd Eng’land is
soos ’n altaar, wonderwit,
wat in gitswart woude sit
jy breek tronktralies van die nag
die antieke vloek word aangedurf
om verby beangste sterkolonne
die doderyk met lig te blits:
dié lumineuse hoop
soos lusiferien van sonligbesies
of ’n skitter-skarabee
is juis die blinksoet elikserheuning
in die caduceus T.
© Meyer van Rensburg, 2022