Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
21 May 202425 May 2024

Aangenaam! Onderhoud met Meyer van Rensburg

Meyer van Rensburg (Imprimatur Uitgewers)

 

Meyer van Rensburg, baie dankie dat jy weer vandag beskikbaar is vir ʼn onderhoud!

 

Marlies Taljard (MT)

Waar kom jy vandaan? Vertel asseblief iets van jou jeug en jou kleintyd. Wat het jou gemaak wat jy nou is?

 

Meyer van Rensburg (MvR)

Wel, Marlies, ek is op 4 Julie, 1944, in Upington gebore, maar ons het na Ganspan, in die  Vaalharts-nedersetting, naby Warrenton, getrek toe ek ses jaar oud was. In Upington was ons huis bekend as “Die Tuine” omdat my pa, wat van Ceres in die Kaap afkomstig is, so baie vrugtebome en groentes gekweek het en my ma se blomtuin was van so ‘n aard dat ons gereeld Saterdae blomme verkoop het.

Die boom-plantery en tuinmakery is In Ganspan-nedersetting voortgesit en ek en my broer, Theunis, moes gereeld bome snoei en landerye vol koring of grondboontjies waterlei.  Ons was so ywerig dat ons later van die ander mense se grond bewerk het vir ‘n gedeelte van die oes. Vandaar my beheptheid met bome en landerye, wat gereeld in my gedigte voorkom.

Gisela Ullyatt het tereg in haar artikel oor my  opgemerk: “Hierdie kennis ontkiem en bot jare later in Klankmanwoordboom wat onder meer snoeityd en okulasie as beeld en metafoor ontgin.” (https://versindaba.co.za/2015/09/11/gisela-ullyatt-wat-het-van-meyer-van-rensburg-geword/)

Die gedigte “Snoeityd “ en “Noord-Kaap”  asook “Boom”, in Klankmanwoordboom verwys juis na hierdie tydperk in my lewe.

Na my pa se afsterwe het ons na Brits verhuis, waar my ma later met ‘n tabakboer in die huwelik getree het. Ek het by Brits Hoërskool matrikuleer en toe by die SAUK in Johannesburg aangesluit as klank-kontroleur wat daartoe gelei het dat ek musiekopname-ingenieur in Ateljee 3A geword het. In 1972 het ek by ‘n platemaatskappy, RPM, begin werk en toe in 1975 was ek weer terug by die SAUK, maar toe by die televisie-diens.  Die hele “Klank”-afdeling in my eerste bundel  is baseer op die musiekopname tydperk en dit was juis as gevolg van hierdie gedigte dat kritici gesē het dat ek vernuwing in die Afrikaanse poēsie bring.

Gisela het hierdie gedeelte van my lewe breedvoerig bespreek in haar derde artikel oor my “Wanneer die Klankman begin Droom”, in Versindaba:  https://versindaba.co.za/2015/12/13/gisela-ullyatt-wanneer-die-klankman-begin-droom/

 

MT

Het jou beroep ʼn invloed op jou skryfwerk – die temas, die ondervinding wat jy opgedoen het, die onderliggende teorie …?

 

MvR

Soos ek alreeds verduidelik het, oefen my beroep nog altyd  ‘n groot invloed uit  op my skryfwerk en, terwyl ek by RPM-platemaatskappy gewerk het, het ek, tydens opnames, by Dan Hill gekla oor die swak gehalte van Afrikaanse lirieke. Hy het my uitgedaag om beter te doen en, nadat ek by my broer, Theunis, aangeklop het vir hulp, het ‘n hele klomp lirieke gevolg: ek het vir meeste van Glenys Lynne se treffers gesorg, soos “My Hart het ‘n Kleine Venster”, “Ramaja”, “Haai Casanova” en baie ander.  Daarna het ek lirieke geskryf vir Sias Reinecke, sowel as Engelse komposisies saam met Dennis East en Zane Cronjé. Die liedjie-skrywery het toe  gelei tot die skryf van poësie.

 

MT

Wat doen jy deesdae? Watter beroep beoefen jy, waar woon jy, wat doen jy in jou vrye tyd? Met wie deel jy jou lewe? Waar kom jou liefde vir woorde vandaan? Hoe lank skryf jy al en wat skryf jy alles?

 

MvR

Gedurende my tyd by RPM het ek ‘n Amerikaanse Christen-groep, The Living Sound, opgeneem en hierdie groep jong mense het my so beïndruk met hulle geloof, dat ek in 1982 ‘n weergebore Christen geword het. Tesame met die feit dat my poësie oor die hoof gesien was deur Andre Brink  toe hy Groot Verseboek saamgestel het (alhoewel Oppermann gaande was oor my werk),  en ek baie teleurgestel was, het dit gelei dat ek vir eers nie meer gedigte in Afrikaans geskryf het nie: ek het, na die nodige opleiding,  in Bybel-skole klas gegee en was baie besig om handleidings vir die studente saam te stel.

Dit het daarnatoe gelei dat ek in 2004 ‘n pos in Bristol, Engeland, aanvaar het as Senior Lektor by ‘n Bybelskool. My vrou en ek is toe sak-en-pak Engeland toe en in 2006 het ons weer verhuis, nader na Londen toe omdat ek ‘n pos by ‘n universiteitskollege aanvaar het. Die skryfwerk was nou alles in Engels, omdat ek handboeke vir die studente moes skryf. Ek het toe ook sewe Engelse Christen-boeke gepubliseer.  Tans is ek semi-afgetree en woon in Kent. Van my kinders het ons na Engeland gevolg maar daar is nog ‘n paar kinders en kleinkinders in SA.

Dis juis hier waar Gisela Ullyatt my opgespoor het om haar artikels vir Versindaba te skryf:

(https://versindaba.co.za/2015/09/16/gisela-ullyatt-meyer-van-rensburg-foto-album-en-enkele-gedigte-2/) en (https://versindaba.co.za/2015/12/15/gisela-ullyatt-ek-wil-weer-jou-rooikors-breek-ontworteling-in-klankmanwoordboom/)

Dit lei toe weer na ‘n heen-en-weer-skrywery met Daniel Hugo, en hy het my aangespoor om weer te begin dig.  Die bundel, Heenkoms, was die resultaat. Tans is my volgende bundel by die keurders, maar al die jare se ophoop van gedagtes het as gevolg dat ek nog ten minste genoeg gedigte het vir nog twee bundels.

 

MT

Is jy ʼn leser, en wat lees jy? Watter teks(te) het jou die meeste aangegryp? Is daar iemand wat jou inspireer om te skryf, iemand wie se werk jy bewonder of iemand wat vir jou ʼn klankbord is?

 

MvR

As kind het ek alles gelees wat ek in die hand kon kry, selfs stukkies koerant wat ek in die straat opgetel het! Die stadsbiblioteek was maar klein  in Ganspan, en ek het gereeld die bibliotekaresse gepla om te weet wanneer die nuwe klomp boeke kom, want ek het dan al die kinderboeke op die rakke deurgelees.  Gedigte van bekende digters het gereeld in die tydskrifte wat my ma gekry het verskyn. Op skool het ek my verdiep in die poësie, Afrikaans sowel as Engels en, tot vandag toe, onthou my vorige skoolmaats my as die ou wat al die gedigte uit sý kop geken het. Portia se hof-toespraak, “The quality of mercy is not strained…” uit “The Merchant of Venice” dwaal nog steeds heelhuids in my kop rond.

Ek was, en is nog steeds, baie beïndruk met Van Wyk Louw en Oppermann se poësie, maar die hele oeuvre van Afrikaanse gedigte het by my aanklank gevind, soos  hierdie gedig uit Klankmanwoordboom getuig:

 

Stamboom

 

Die Klasie wat de waarheid zeggen

en met hogen hout willen schrijf soos ons praet,

die drieman klingel saam ’n passie

(Janfrederik soen sy Martjie)

en langs die suikerbos en rand

vry visvanger ’n rosarum hartjie.

 

Die toon van die sangers word verhewe,

weemoedig klink tinktinkietaal

uit die haak-en-steek-besluit;

’n Zoeloeland-jandiederik

skop verkeerdom eiers uit,

soek na die alfa en omega

in alles wat hom stuit.

 

’n Piet-my-vrou wyk verder,

weg van die lou geykte lied,

beitel glad deur jaarringe,

kyk wat die rooi pit bied

en grootoog in die skaduwee,

slaan janblom die ganse gade:

 

sal ek aanklank vind en saam rinkink

as janfiskaal of luistervink?

 

Ongelukkig is die oes van Afrikaanse bundels en gedigte op die Internet maar baie skraal, so dis bietjie moeilik om in Engeland op datum te bly met Afrikaanse poēsie, daarom is ek baie bly dat  Versindaba vrylik beskikbaar is.

 

MT

Hoe skryf jy? Kom jou gedigte volledig by jou aan? Dink jy lank voordat jy iets skryf? Hoe lank en hoe intensief werk jy aan ʼn gedig?

 

MvR

Nee, die meeste gedigte kom nie volledig aan nie: hulle ondergaan ‘n ontkieming van die tema (miskien ‘n reël of twee); dan ‘n groei oor ‘n tydperk en dan ‘n oor-en-oor verwerking.  Ek het byvoorbeeld die dam water naby ons huis al ‘n paar keer geskilder en, terwyl ek besig was met die reier wat gereeld daar kom kuier, het dit my herinner aan I.D. du Plessis se gedig, “By Rietfontein se leidam”. Dit het twee gedigte laat ontkiem, enersyds omdat ek besef het dat die reier nie droom nie en dan ook die ander voëls en visse wat daar lewe.

Party keer is dit net ‘n enkele woord wat ‘n gedig inspireer, of iets wat iemand sê: ek was bv. In die kontrolekamer van ‘n opname ateljee, toe die ingenieur na een van die musikante verwys en sê: “Kyk daardie pensioenpensie!” Ek het onmiddellik na Rosa Keet (wat ook in die kontrolekamer was) gekyk en gesê: “Dis myne!” en sy het presies geweet wat ek bedoel: die woord wat toe lei tot hierdie gedig:

 

Bournemouth strand

 

As uitlander op hierdie strand

waar kluisenaarskrewe  en kinkhorings

met seekwalle en kewer-slakke luilak in die sand

 

dink hy sy oudag in

bou ’n pensioenpensie op

sodat hy daar agter kan aftree

met jakopeweroë t’rug kan sit

 

om binnevet te eet

mooi bakvissies te beloer

wat oor die duine manna

en kwartel in die aand

 

en dan onthou hy weer:

die sardiens loop wulps in Durban

lê ka(a)lbas(sies) in die sand.

 

Of ek sien ‘n woord agter op ‘n vragmotor: “Abnormal Load”, en dit lei tot die volgende:

 

Abnormale vrag

 

 

Die boordens-toe gelaaide vragwa

ry vol voor my

ry die hele wêreld vol

prut-prut en mor erg beswaard

 

so voor verby

flits ’n storie uit vir my

 

en ek besef

dat elke diepgegroefde sel

swaar dra van die val

tot in die sloot:

 

ABNORMALE VRAG:

 

ek dra my dood.

 

 Met ander woorde, enigiets kan ‘n gedig laat ontstaan: die plante in Engeland of Londen gedurende die epidemie, of die Jazz-musiek waarna ek luister: enigiets kan ‘n idee vir ‘n gedig laat uitbroei.

 

MT

In hoeverre steur jy jou aan kritiek?

 

MvR

Soos meeste digters steur ek my aan kritiek, maar dit Hang af van wie af dit kom. Verstaan die persoon die basiese idee waaroor ek skryf?

 

MT

Watter temas lê jou na aan die hart?

 

MvR

Uit die aard van die saak is my Christenskap baie belangrik vir my, maar Daniel Hugo het my aangeraai om nie elke gedig daaroor te skryf nie.  Ek skryf nog steeds baie gedigte oor klank en, omdat ek in olieverf skilder, lei dit tot kleurgedigte.

 

MT

Watter raad sou jy graag aan aspirant-digters gee?

 

MvR

Lees en skryf so wat jy kan: probeer by iemand aanklop wat gesonde kritiek kan gee.

 

MT

Deel asseblief met ons een gedig in jou oeuvre (of ook meer as een) waarvan jy baie hou.

 

MvR

Ek het al ‘n paar ingesluit, maar hier is nog:

 

Copernicus: Gesprekke met God

(Skildery deurJan Matjeko: Astronom Kopernik, czyli rozmowa z Bogiem)

 

Knielend word die hemel dopgehou

op-en-wakker in die sluimerure

vroeg voor dagbreek

hoog op jou sterrewag-balkon beskou

jy vraend die oorgang van die nag

en die aankoms van die skemerende dag

terwyl ligure ver ’n paar sprankel-sterre

nog steeds bly flonker

uit onwis van eone se dubieuse donker

agter jou die Frombork-katedraal

waar jy dien as priester en eksegeet

maar hier jou heliosentriese model

in sirkelgange uitgemeet

op ‘n groot plat bord

met elke planeet-revolusie afgetel

’n illustrasie van jou De revolutionibus.

Wat sal daarvan word?

Angstig-soekend kyk jy omhoog

waar die uitspansel steeds verbyster

regterhand aanbiddend na bo gelig

met groot verwondering vir die gewelf

op jou afvraende oop gesig

in die linker ’n toestel wat die hemele meet

en aan eenkant dieselfde boek

oor omwentelinge van die swerk se sfere

soos ’n stil profeet.

Astronomiese apparaat lê oral uitgesprei

maar vir nou is dit net die hemel en jy:

 

“Laat my asseblief weet, Here!”

 

Voorheen het die onomwonde invokasie

wyse insigte gebring:

“Om te weet dat ons weet

wat ons weet, en om te weet dat ons nie weet

wat ons nie weet nie, dít is ware kennis.”

En “Jy moet gereeld verander

om konstant te bly in wysheid en geluk.”

Asook “In ’n goed regeerde land

is armoede ’n skande.”

Maar nou, terwyl jy dit nog oordink,

word nuwe kennis summier openbaar:

dat die son nie om die aarde draai nie!

Dit is moeilik vir almal om te aanvaar

niemand sou dit ooit kon raai nie

en Galileo word later juis dáároor

as ketter deur die kerk verklaar .

 

Ons is tot dan vir eeue aan die neus

gelei: gesê gehoor gelees

dat óns die heelal-middelpunt moet wees

maar dis nou gewis

beslis nie waar nie, al dink elkeen:

“Ek is!”

Nog een: die keer oor kleur:

 

Digter: kleurfiksering

 

As woordskilder wil hy in briljante kleure skryf

van die teerste bloeisel tot die krokodil se skubbelyf:

party ontsnap voor hy hulle neer kan pen, ander verdof,

beswyk: die bestes is neologismes wat hy glansend blink bedryf.

 

Baie dankie vir die onderhoud, Marlies!

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Meyer van Rensburg. Vuurvlieglusiferase
Meyer Van Rensburg. Sand skiagram →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Resensie: "Skulpkrale: Kwatryne" (Marié Heese)
  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling

Nuutste bydraes

  • Krige Visser. parodie en ironie
  • Helena Oosthuizen. 3 gedigte
  • Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels
  • Andrea Sieberhagen. Tolbos
  • Koos de Wet. die karoo-kat

Nuutste kommentaar

  1. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  2. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  3. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  4. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

  5. Maryna Janse van Rensburg on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Uitstekend. Mooi.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d