Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
31 October 20222 November 2022

Joan Hambidge. Hoe lees ons? X

 

I

Die verhouding tussen Freud en Jung het in 1913 tot ‘n einde gekom. Zvi Lothane verwerp die idee dat die breuk te make had met die vriendskap tussen Jung en Sabina Spielrein en wys op ander verskille tussen die twee psigoanaliste. Jung het argetipes en die kollektiewe onbewuste poneer en Freud se sieninge van die libido as die dryfkrag van die psige gekritiseer.

https://www.psychiatrictimes.com/view/psychotherapy-and-psychoanalysis-real-spielrein-between-jung-and-freud  Besoek 30 Oktober 2022

In Man and his symbols vertel Jung van ‘n droom oor ‘n besoek aan ‘n kelder wat Freud gesien het as ‘n doodsbegeerte en dat Jung hom wou dood sien.

Die radikale breuk tussen die twee geleerdes word in die beroemde briewe na vore gebring. Met Jung wat telkemale probeer het om die vriendskap te herstel.

Argetipes, animus en anima, die kollektiewe onbewuste, die skadu, individuasie, enantiodromia (die terugbeweeg in en teen die chronologiese tyd en die aanvaarding van sikliese of irreële tyd) is van Jung se belangrikste konsepte. Jung het sedert die sestigerjare met die opkoms van Franse psigoanaliste (soos Jacques Lacan) “verdwyn” uit literatuurteoretiese kompendiums en readers, waarskynlik weens die meer spirituele benadering. Dieselfde geld D.H. Lawrence as romanskrywer.

In die Cronenberg-film A Dangerous Method vind ons eweneens fiksionalisering soos dit met films en romans gesteld is. Hierdie film is in 2011 vervaardig met Keira Knightley, Viggo Mortensen en Michael Fassbender as spelers.

Fiksie, soos ons reeds uitgewys het in die bespreking van D.M. Thomas se The White hotel, herinterpreteer feite. (Hoe lees ons? IV)

Ook gedigte is ‘n spel tussen ware gebeure en herdigting. Hierdie gedig is gebaseer op ‘n brief van Jung aan sy vrou Emma:

Jung aan Emma Jung

 

Maart 15, 1920

Grand Hotel Sousse

 

My liefste Emma

 

Ek kan ongelukkig nie

sober of sinvol

skryf aan jou nie;

dit is alles eenvoudig

net te veel vir my.

Ek volstaan met enkele indrukke,

of iets sydelings dan.

Ná ‘n koue seevaart

staan Algiers gebaai

in ‘n songloed.

Soggens breek

‘n geel gloed

oor my donker mat.

Rooi fezze, geel uniforms

van die Tirailleurs d’Afrique,

die rooi van die Spahis

en wit burnoose. En gutturale klanke

wat net sowel van ‘n kanton

uit Zürich kon klink…

Jy kan nie meer dink aan jouself nie:

volledig opgelos in dié potpourri

wat jy nie kan beskryf,

nog minder sal begryp.

Swoel botaniese tuine

en tropiese woude

met die soutsmaak

van ‘n seebries op my tong.

Dan die dertig ure treinrit na Tunisië,

waar ek instap op ‘n antieke stad:

vol Arabiese geheimenisse

uit die Moorse Middeleeue.

Hier verloor jy jouself

buite woorde of begrip

en die skril stem vanuit die moskee

word voltooi deur die skildery

van ‘n skoenmaker op sy mat,

‘n blinde musikant met ‘n trom

en driesnaar-luit;

‘n vuil, biddende bedelaar

voltooi die portret.

Daar is swerms vlieë,

rook uit oliebolle

en die muezzin

se middagneurie

opnuut opgevang

deur fezze, uniforms

met ‘n brandsiek kat in die son.

‘n Strepie blou lug,

‘n wit minaret teen

die eter vredig.

Skuifelende geel en rooi skoene

teenoor swart voete

se haas só absoluut geluidloos.

En snags die silwer skynsel

van die weemoedige maan.

Op die treinreis het ons

per ongeluk

‘n kameel raakgery

en in die nag verskyn

daar onheilspellende

wit figure

van oraloor

om te red wat on-redde is…

Sousse bloot wit mure en torings

met ‘n god wat soggens ontwaak

en die maan, ja die maan

blink snags soos ‘n groot olyf

oor dié stad.

Vergewe my, liefste Emma,

vir hierdie melancholiese gestotter:

Ek weet nie wat Afrika vir my sê nie,

maar dit práát…

 

(Nomadiese sterre).

 

II

Maar wie was Sabina Spielrein presies? Die eerste vroue-psigoanalis. ‘n Russiese-Jodin. Sy sterf in die Holocaust.

Op Russies: Сабина Николаевна Шпильрейн (1885 – 1942) die skrywer van die belangrike artikel “Destruction as the Cause of Coming Into Being” wat in 1912 verskyn het. As dokter en psigiater het sy belangrike werk gelewer oor die taal van skisofrene.

Sy het nou saam met Jung gewerk en verlief geraak op hom. In briewe aan Freud ontken Jung dat daar ‘n seksuele verhouding tussen hulle was en hy beskuldig haar van ‘n obsessie met hom.

Was Freud werklik gediend met hierdie verbintenis en haar obsessie as sogenaamde countertransference of was dit ‘n bydraende faktor vir die einde van ‘n verbintenis met Jung?

Is Spielrein gerelativeer tot ‘n blote voetnoot weens haar tragiese einde of aksentueer dit eerder die rol van vroue in hierdie tydvak as medewerkers, terwyl die manlike psigoanalis die erkenning gekry het in die tyd?

III

Was Spielrein ‘n blote enallage tussen die twee mans of werklik ‘n psigoanalitiese denker in eie reg?

Tussen 1904 en 1905 beleef sy ‘n ineenstorting toe haar suster onverwags sterf. Sy word in ‘n inrigting opgeneem waar sy Jung ontmoet in die Burghölzli in Zürich. Jung was die assistent van Bleuler en veral in die Cronenberg-film word hierdie aspek uitgelig. Onder andere die siening dat haar vader haar aangerand het en hierom word sy dan van haar familie geskei om te herstel.

Dus ‘n weerlose vrou wat verlief raak op haar geneser, Jung.

Die enorme hoeveelheid tekste en studies oor haar – veral deur die reeds genoemde Lothane, bewys haar relevansie. Wat soek die Joodse meisie by die Duitse helde en vice versa?, vra sy. Enantiodromia sou Jung nooit kon ontwikkel het as dit nie juis vir hierdie opposisies en teenstrydighede was nie.

Op al hierdie vrae is daar nie eenvoudige antwoorde nie. Sy het gewerk binne ‘n tyd toe vroue as optekenaars gesien is en dit is eers vandag wat vroue-navorsers in eie reg publiseer.

Vir my is sy meer as ‘n voetnoot. Eerder ‘n katalisator tussen twee mans wat ten spyte van pynlike konflik belangrike werk gelewer het. Soos ook in die stryd tussen Lacan en Irigaray waarop ons nog sal ingaan.

En die verskille tussen Alice Miller en haar voorgangers.

Joan Hambidge

Oktober 2022

 

Bronne:

Hambidge, Joan. 2021. Nomadiese sterre. Pretoria: Protea.

Jung, Carl.1964. Man and his Symbols. Londen: Aldus Books.

Jung, C.G.  1953 -1979. The Collected Works. (Bollingen series XX). 20 volumes. Vertaal deur R.F.C. Hull. Redd. H. Read, M. Fordham, G. Adler, Wm. McGuire. Princeton: Princeton University Press. Princeton.

McGuire, William. 1974. Freud-Jung Letters. Princeton: Princeton University Press.

 

 

Die gedig van Jung is gebaseer op ‘n brief aan sy vrou Emma in 1920.

https://carljungdepthpsychologysite.blog/2019/05/20/carl-jungs-letter-to-emma-jung-from-north-africa-1920/  Besoek 30 Oktober 2022

 

 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Vermeer: Meisie met pêreloorbel
Onderhoud: Joan Hambidge met Michèle Betty oor “Dark Horse” →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d