I
Die verhouding tussen Freud en Jung het in 1913 tot ‘n einde gekom. Zvi Lothane verwerp die idee dat die breuk te make had met die vriendskap tussen Jung en Sabina Spielrein en wys op ander verskille tussen die twee psigoanaliste. Jung het argetipes en die kollektiewe onbewuste poneer en Freud se sieninge van die libido as die dryfkrag van die psige gekritiseer.
https://www.psychiatrictimes.com/view/psychotherapy-and-psychoanalysis-real-spielrein-between-jung-and-freud Besoek 30 Oktober 2022
In Man and his symbols vertel Jung van ‘n droom oor ‘n besoek aan ‘n kelder wat Freud gesien het as ‘n doodsbegeerte en dat Jung hom wou dood sien.
Die radikale breuk tussen die twee geleerdes word in die beroemde briewe na vore gebring. Met Jung wat telkemale probeer het om die vriendskap te herstel.
Argetipes, animus en anima, die kollektiewe onbewuste, die skadu, individuasie, enantiodromia (die terugbeweeg in en teen die chronologiese tyd en die aanvaarding van sikliese of irreële tyd) is van Jung se belangrikste konsepte. Jung het sedert die sestigerjare met die opkoms van Franse psigoanaliste (soos Jacques Lacan) “verdwyn” uit literatuurteoretiese kompendiums en readers, waarskynlik weens die meer spirituele benadering. Dieselfde geld D.H. Lawrence as romanskrywer.
In die Cronenberg-film A Dangerous Method vind ons eweneens fiksionalisering soos dit met films en romans gesteld is. Hierdie film is in 2011 vervaardig met Keira Knightley, Viggo Mortensen en Michael Fassbender as spelers.
Fiksie, soos ons reeds uitgewys het in die bespreking van D.M. Thomas se The White hotel, herinterpreteer feite. (Hoe lees ons? IV)
Ook gedigte is ‘n spel tussen ware gebeure en herdigting. Hierdie gedig is gebaseer op ‘n brief van Jung aan sy vrou Emma:
Jung aan Emma Jung
Maart 15, 1920
Grand Hotel Sousse
My liefste Emma
Ek kan ongelukkig nie
sober of sinvol
skryf aan jou nie;
dit is alles eenvoudig
net te veel vir my.
Ek volstaan met enkele indrukke,
of iets sydelings dan.
Ná ‘n koue seevaart
staan Algiers gebaai
in ‘n songloed.
Soggens breek
‘n geel gloed
oor my donker mat.
Rooi fezze, geel uniforms
van die Tirailleurs d’Afrique,
die rooi van die Spahis
en wit burnoose. En gutturale klanke
wat net sowel van ‘n kanton
uit Zürich kon klink…
Jy kan nie meer dink aan jouself nie:
volledig opgelos in dié potpourri
wat jy nie kan beskryf,
nog minder sal begryp.
Swoel botaniese tuine
en tropiese woude
met die soutsmaak
van ‘n seebries op my tong.
Dan die dertig ure treinrit na Tunisië,
waar ek instap op ‘n antieke stad:
vol Arabiese geheimenisse
uit die Moorse Middeleeue.
Hier verloor jy jouself
buite woorde of begrip
en die skril stem vanuit die moskee
word voltooi deur die skildery
van ‘n skoenmaker op sy mat,
‘n blinde musikant met ‘n trom
en driesnaar-luit;
‘n vuil, biddende bedelaar
voltooi die portret.
Daar is swerms vlieë,
rook uit oliebolle
en die muezzin
se middagneurie
opnuut opgevang
deur fezze, uniforms
met ‘n brandsiek kat in die son.
‘n Strepie blou lug,
‘n wit minaret teen
die eter vredig.
Skuifelende geel en rooi skoene
teenoor swart voete
se haas só absoluut geluidloos.
En snags die silwer skynsel
van die weemoedige maan.
Op die treinreis het ons
per ongeluk
‘n kameel raakgery
en in die nag verskyn
daar onheilspellende
wit figure
van oraloor
om te red wat on-redde is…
Sousse bloot wit mure en torings
met ‘n god wat soggens ontwaak
en die maan, ja die maan
blink snags soos ‘n groot olyf
oor dié stad.
Vergewe my, liefste Emma,
vir hierdie melancholiese gestotter:
Ek weet nie wat Afrika vir my sê nie,
maar dit práát…
(Nomadiese sterre).
II
Maar wie was Sabina Spielrein presies? Die eerste vroue-psigoanalis. ‘n Russiese-Jodin. Sy sterf in die Holocaust.
Op Russies: Сабина Николаевна Шпильрейн (1885 – 1942) die skrywer van die belangrike artikel “Destruction as the Cause of Coming Into Being” wat in 1912 verskyn het. As dokter en psigiater het sy belangrike werk gelewer oor die taal van skisofrene.
Sy het nou saam met Jung gewerk en verlief geraak op hom. In briewe aan Freud ontken Jung dat daar ‘n seksuele verhouding tussen hulle was en hy beskuldig haar van ‘n obsessie met hom.
Was Freud werklik gediend met hierdie verbintenis en haar obsessie as sogenaamde countertransference of was dit ‘n bydraende faktor vir die einde van ‘n verbintenis met Jung?
Is Spielrein gerelativeer tot ‘n blote voetnoot weens haar tragiese einde of aksentueer dit eerder die rol van vroue in hierdie tydvak as medewerkers, terwyl die manlike psigoanalis die erkenning gekry het in die tyd?
III
Was Spielrein ‘n blote enallage tussen die twee mans of werklik ‘n psigoanalitiese denker in eie reg?
Tussen 1904 en 1905 beleef sy ‘n ineenstorting toe haar suster onverwags sterf. Sy word in ‘n inrigting opgeneem waar sy Jung ontmoet in die Burghölzli in Zürich. Jung was die assistent van Bleuler en veral in die Cronenberg-film word hierdie aspek uitgelig. Onder andere die siening dat haar vader haar aangerand het en hierom word sy dan van haar familie geskei om te herstel.
Dus ‘n weerlose vrou wat verlief raak op haar geneser, Jung.
Die enorme hoeveelheid tekste en studies oor haar – veral deur die reeds genoemde Lothane, bewys haar relevansie. Wat soek die Joodse meisie by die Duitse helde en vice versa?, vra sy. Enantiodromia sou Jung nooit kon ontwikkel het as dit nie juis vir hierdie opposisies en teenstrydighede was nie.
Op al hierdie vrae is daar nie eenvoudige antwoorde nie. Sy het gewerk binne ‘n tyd toe vroue as optekenaars gesien is en dit is eers vandag wat vroue-navorsers in eie reg publiseer.
Vir my is sy meer as ‘n voetnoot. Eerder ‘n katalisator tussen twee mans wat ten spyte van pynlike konflik belangrike werk gelewer het. Soos ook in die stryd tussen Lacan en Irigaray waarop ons nog sal ingaan.
En die verskille tussen Alice Miller en haar voorgangers.
Joan Hambidge
Oktober 2022
Bronne:
Hambidge, Joan. 2021. Nomadiese sterre. Pretoria: Protea.
Jung, Carl.1964. Man and his Symbols. Londen: Aldus Books.
Jung, C.G. 1953 -1979. The Collected Works. (Bollingen series XX). 20 volumes. Vertaal deur R.F.C. Hull. Redd. H. Read, M. Fordham, G. Adler, Wm. McGuire. Princeton: Princeton University Press. Princeton.
McGuire, William. 1974. Freud-Jung Letters. Princeton: Princeton University Press.
Die gedig van Jung is gebaseer op ‘n brief aan sy vrou Emma in 1920.
https://carljungdepthpsychologysite.blog/2019/05/20/carl-jungs-letter-to-emma-jung-from-north-africa-1920/ Besoek 30 Oktober 2022