Marilyn Monroe: foto van jóú
‘die gedig is die liefde
soos elke vrou ʼn woord is’ – Breyten Breytenbach
dat daar al gesê is
die dood is net ʼn droom
ʼn techicolour werklikheid:
hand op die telefoon
en alles om jou waterig
om jou lewe
in die dood te gee
om jou lewe
anderkant
die dood te gee
só, soos alles ná jou dood sou doen:
die foto van jou
bo moltreinventilasieskag
ʼn skielike sug van onsterflikheid
ʼn mond in vol rooi lippe vertel
van vrou wat ikoon sou word
van vroulikheid
in breekbaar broos se mou
vaarwel Norma Jean
die lied sê jy’t jou lewe leef
soos ʼn eensaam kersie in die wind
in ʼn wêreld
wat deur jou
na liefde smag
as uiteinde van die idee
van jou verruklikheid
mans, skreeuende monde, die naam: Monroe
kameras wat flikker, flankeer in eensaam grou:
en al wat jý wou hê
was om vir een enkel uur
jou vader te ken
vir een enkel oomblik
vasgehou te word
deur hom én ʼn wêreld
waarin liefde wel kon bestaan –
hóm hoor sê: ook hierdie flitse gaan verby
soos die faam – die foto’s in rooi en blou
vaarwel Norma Jean
jou finale rus
is toe sonder gebreekte gloeilampe
is toe sonder aborsies en slaappille
en ʼn wêreld wat nie
nie jou menslikheid kon insien nie –
iewers saam met Arthur Miller
aan ʼn ongekunstelde kus
met eerder net ʼn fotoboek
van ʼn sterbelaaide verlede
– niks meer as dit nodig nie –
met jou pa en ma en kinders op die strand
en dié gedig wat sterflik maak
juis dit wat jou onsterflikheid maak
(na aanleiding van die film: Blonde)
© Bester Meyer, 2022