My gedink, soos Sterre
Eskom se afklokreël was laat vanaand
mense spaander na hulle opwekkers
maar die sterre bly blinklyf
hulle gestaltes, hulle name roep –
Vanuit sterrestof het jy gekom
en na sterrestof toe sal jy terugkeer
en in die tussenin-ruimtes
wat ons leef noem
is die opwekkers se kille gebrul
wat bevoorregtes van moontlik
minder-bevoorregtes onderskei
benede die weet, buite die soek,
tog deel van ʼn kop
wat uiting probeer gee aan hart.
Die nuwe stad: Jerusalem
lê in die maangloed en gis –
Soldatekinders
ruk weduwees vanuit huise:
die groot apartsheidstaat
wat deur almal laat los word
vir strategies-ekonomiese moontlikhede
– en o my duistere wete van wedywerende rede –
weduwees huil ook ware trane van sout
ween ook, en kners ook op die tande.
In Oekraine is Hy ek, ek Hy –
dat ek Sý donkerkant kan verstaan(?):
wat aangaan in die nanag van die kop
is soms ʼn aborsie van vreemde planete
en vervlietende sterre
wat in die skreeu van die waarheid
uitgepers word tot ʼn hartseer-hart
om in hierdie mensgemaakte nag
geboorte te gee aan woorde
as uitkoms van ʼn revolusionêre dagbreek
om só die wil van mens aan ster te bind
en vandaar uit te wyk na die groot gefool van niks.
Hy leef in my, ek vloei is Sy Wydheid
en daarom dan die kwelling
oor ʼn weduwee wat huil,
ʼn kind wat vlug voor hommeltuig
se knoppie, soldaat se vinger
op hommeltuig se knoppie,
soldaat se vinger op semi-
outomatiese geweer, generaal
se hand wat vryf oor boepens
terwyl hý soldaat opdrag gee
(– generaal wat wind opbreek, poep –)
Hy leef in ons, ons vloei is Sy Wysheid
en ek sê Eskom se afklokreël
is ʼn niks
in vergeleke
met die soldaat die weduwee en kind se lot:
my vae gedagte, ʼn illusie van trillende sterre.
© Bester Meyer, 2022