Vers Nege (met apologie: NP van Wyk Louw)
Die wind in die baai het gaan lê
met eenderse plankies: die roeiers
in water weerkaatsing: is óns nog? –
deinings in ʼn verlede-doodskadu-dal
verdwyn soos skote van September ’84.
Want, in die baai het die wind gaan lê:
alles voor-die-handliggend – sereen – ;
dalk die oorlog elders wat dreig in
on-serene swere – maar so altyd –
ons seile blote wit skepe in die nag
– die wind oor baai lank terug gaan lê.
Vertel vir kinders ons bou spoggerige karre
wat teen hoë spoed op Autobahn kan gaan
– en wyl ʼn blouplaneet dalk mooi is –
broei vooruitgang se suiwer spaan
in koolstofdiokorporatiewe krag en mag:
want beswering is sameswering, die teorie
van die vrees wat nie nou moet broei,
vrees met vrees vergelding is mos verraad –
in die stil stilte voor ons op ons louere kan rus:
die roeiers na-makers van die wit koppe
wat weldra – deur wind en weer en wel en wee –
swart hingste die baai sal ingalop.
© Bester Meyer, 2022