Freud en Nicolas Roeg
I
Die 1980 film van Nicolas Roeg heet Bad Timing. Art Garfunkel vertolk die rol van ene Alex Linden, psigoanalis en dosent in Wene. Hierdie rolprent ondersoek die impak van obsessie. Theresa Russell is Milena, sy minnares. Die film werk met terugflitse en ons beleef die verhouding op verskillende vlakke. Milena is getroud met Stefan (Denholm Elliott) en vertrek oor die grens om hom te besoek.
Grense of liminaliteite is waaroor hierdie film handel. Die film se montage-tegnieke is uitsonderlik.
Milena, ‘n depressielyer, probeer selfmoord pleeg. Die kyker weet egter dat Alex haar verkrag het terwyl sy bewusteloos was. Harvey Keitel, as Inspekteur Netusil, weet dat hy lieg oor hierdie aand. Dit het alles te make met tyd. Na watter radiostasie het hy geluister?
Ons beleef die verhouding, die hospitaal en hoé Milena se keel oopgesny word om haar te red.
Stefan, die eggenoot vertel vir Alex dat Milena buite gevaar is en Alex keer terug na die VSA. In New York, agterin ‘n taxi sien hy Milena wat by ‘n gebou staan. Die kyker sien die letsel op haar keel en Alex roep na haar. Sy draai egter weg van hom.
‘n Freudiaanse speurverhaal dus. Alex verduidelik vir sy studente dat die jong kind ‘n voyeur is. Ons beleef altyd isolasie en elke geboorte en dood is uniek.
Ons is altyd ‘n waarnemer of afloerder, verduidelik Alex die dosent.
II
Hierdie briljante film werk met Freudiaanse kodes. Boonop beleef Art Garfunkel tydens die verfilming ‘n persoonlike tragedie. Laurie Bird, sy minnares pleeg selfmoord. Russell is die eggenote van die filmmaker.
III
Alles speel hoofsaaklik af in Freud se stad en daar is besoek aan Marokko wat ook Freud se klassieke studies oor primordialiteit aktiveer soos Totem and Taboo wat in 1913 verskyn het.
Eros en thanatos. Met Freud se siening dat die doodsdrif sterker is as die lewensdrif.
Freud’s Concept of the Death Drive and its Relation to the Superego deur Joanne Faulkner is hier relevant.
http://www.minerva.mic.ul.ie/vol9/Freud.html Besoek 17 November 2022
Ego, Id en Superego is die drie aspekte wat die menslike optrede bepaal.
Met Stefan dalk die superego? Of is Alex maar net die ego met Melina as die Id? In Faulkner se belangrike artikel verwys sy na Freud se bekende uitspraak:
The active aim (to torture […]) is replaced by the passive aim (to be tortured […])” (Faulkner: 7).
In hierdie film word sadisme en masochisme uitgebeeld: Alex wat sy minnares pyn aandoen; Stefan die afwesige minnaar wat eweneens Melina pynig met sý stiltes. Melina wat Alex verneder met haar grensoorskrydende optredes in die nag sodat die bure kla. Telefoongesprekke tussen Alex en Stefan.
Soos Faulkner verder argumenteer: “However, pleasure is not actually located in this ‘being tortured’ for Freud. Rather, the masochist must identify with his torturer, such that he derives his pleasure through this identification, as a distant perpetrator of cruelty rather than its recipient. Masochism was too problematic to be accounted for within the narrow terms of the pleasure and reality principles. It did not appear to satisfy the condition that pain (or unpleasure, or tension) might be endured only to the extent that the energy thus stored may be used to achieve a greater pleasure. In other words, there is nothing outside itself that masochism achieves. Thus, although Freud could not dismiss the occurrence of masochism (in fact, he defined ‘femininity’ as a species of masochism), the notion of a specific pleasure that consists in the sensation of injury — of disintegration and pain — was paradoxical to him.”
En hierdie identifikasie tussen sadis/masochis is presies waaroor hierdie film handel.
Faulkner merk eweneens op:
“The idea of evolution had exchanged one kind of immortality for another: Freud, a self-avowed atheist, who claimed never to have experienced the ‘oceanic’ feeling associated with religion, found his own spirituality in the death drive.” (Faulkner: 23)
Doodsdrif. Sadisme en masochisme. Bernardo Bertolucci se 1990 The Sheltering Sky werk eweneens met dieselfde problematiek.
In daardie film is daar eweneens ‘n triadiese verhouding: man, vrou en minnaar.
In Bad Timing is Stefan waarskynlik die superego wat met sy aankoms gesag impliseer. Alex word ingetrek in die Melina se patologie.
Die rolle wissel voortdurend. Alex is immers die psigoanalis wat oor kennis beskik aanvanklik. Ellie Ragland bespreek in Essays on the pleasures of death – From Freud to Lacan (1995) die retorika van die onbewuste wat volgens Lacan duidelike matematiese verbintenisse aangaan (198). In die afdeling “The paternal metaphor” wys Ragland op die ingewikkelde formasie van die verbeelde, simboliese en reële vlakke.
Alex buikspreek vir Freud.
Net soos Lacan in sy studies Freud linguisties vertaal.
Joan Hambidge
November 2022
Bronne:
Boothby, Richard. 1991. Death and Desire: Psychoanalytic Theory in Lacan’s Return to Freud. New York: Routledge.
Faulkner, Joanne. Freud’s Concept of the Death Drive and its Relation to the Superego.
http://www.minerva.mic.ul.ie/vol9/Freud.html Besoek 17 November 2022Freud, Sigmund. 1961.
Beyond the pleasure principle. Londen: Penguin.
Ragland, Ellie. 1995. Essays on the pleasures of death. From Freud to Lacan. New York: Routledge.
http://movie-locations.com/movies/b/Bad-Timing.php Besoek 18 November 2022
Hier kan die leser die bakens in die film sien. Die besoek aan Marokko aktiveer eweneens Bernardo Bertolucci se The Sheltering Sky.
Aankoms in Tangiers. Die roetes in die film soos na Messad (Algerië), Bounoura (Algerië), en ander Sahara-stede soos El Ga’a (Soedan) kan eweneens besoek word op die internet.
http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=sheltering+sky Besoek 18 November 2022
Ritueel
Hoe sou ’n priester tog
ons laaste rites voltrek?
Jou nommer uitgewis
op my foon en my beursie
met memorabilia tuimel
af in ’n spoeltoilet.
In Wene, meen ek,
is jy salig onbewus
van hierdie proses.
Jy beleef ’n tweede inperking
naby Freud se huis
(en die katedraal)
volgepak met
repressie en onmin.
My gedig ’n konfessie
met jou as priester
wat geen absolusie
bied. Net absonant;
digby die Berggasse
tel Harry Lime
my beursie
ondergronds op.
