Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
22 November 202224 November 2022

Resensie: “Kliniek van verlatenheid” (Alda Merini)

 

Resensie: Kliniek van verlatenheid deur Alda Merini vertaal deur Rina Cascione, Naledi, 2022

Resensent: Joan Hambidge

 

I

‘n Jong Sylvia Plath, voor haar vertrek na Engeland, sê in ‘n onderhoud dat sy die digkuns van Robert Lowell en Anne Sexton bewonder vir die analises van gestigte en senu-ineenstortings. Die ontoelaatbare verwoord hulle in hul pakkende verse.

https://www.youtube.com/watch?v=g2lMsVpRh5c

Kliniek van verlatenheid het sopas by Naledi verskyn. Dit is die gedigte van Alda Merini, vertaal deur Rina Cascione. Bekroon met die Guggenheimprys en aanbeveel vir die Nobelprys. Sowel die Franse as Italiaanse Akademie het hoog opgegee oor haar gedigte.

In haar verse gaan dit om die besoeke aan klinieke en die grense tussen waansin en normaliteit.

Vertalings verryk ‘n letterkunde en hierdie een van Cascione is ‘n belangrike deur wat oopgemaak word.

In Afrikaans het Rosa Nepgen, die eggenoot van W.E.G. Louw, Eugenio Montale voortreflik vertaal as Die geel van suurlemoene skyn (Tafelberg, 1979) 1.

In Afrikaans praat veral Johann de Lange met Montale.

http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=stil+punt+van+die+aarde+johann+de+lange

Besoek 20 November 2022

Vervolgens iets oor die tematiek en dan kyk ons na die transportering van die gedigte vanuit die brontaal na die teikentaal.

Gebore in 1931 en oorlede in 2009 gee hierdie gedigte ‘n blik op persoonlike leed en senuprobleme. Daar is gesprekke met tydgenote. Sy ken ook belangrike figure soos Pasolini, Maria Corti, Salvatore Quasimodo en Montale. Veral Quasimodo en Montale is bekend in Afrikaans.

 

“Ognuno sat solo cuor della terra,

traffito da un raggio de sole:

ed è sùbito sera”

 

Elkeen staan alleen op die hart van die aarde,

deur ‘n straal van die son deurboor:

en skielik is dit aand

 

Salvatore Quasimodo (vertaal deur Wilhelm Knobel)

Ek self gebruik dit as ‘n motto vir En skielik is dit aand (Protea: 2005).

In 1947 word bipolariteit gediagnoseer by haar en jare later verwys sy hierna as die “eerste skaduwee in haar denke”.

En hierdie verse, melancholies en pynlik, sleur mee soos die gedigte van Sylvia Plath en Anne Sexton.

Cascione wys op die aftakeling en hoe haar gedigte die sielkundige en fisieke kwessies in inrigtings aan die kaak gestel het. In Memoirs of the Manicomio: Representations of Mental Illness and Psychiatric Institutions in Contemporary Italian Writing word die kwessie aangespreek deur Bello. (13). Ook Zinnari ondersoek dit in haar navorsing.

In Afrikaans is die bipolariteit van Knobel bekend. Oor Plath en Sexton verskyn daar steeds studies oor die hele kwessie. Ingrid Jonker se gedigte aktiveer iets hiervan.

Johann de Lange verwys na John Berryman soos Kelwyn Sole en nou onlangs, Michèle Betty in Dark Horse.

http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=john+berryman  Besoek 20 November 2022

 

II

Die gedig as wond of letsel. Hieroor het o.a. Julia Kristeva geskryf in Black Sun (New York: Columbia University Press). Die melancholie wat mag oorgaan in ‘n verlies aan identiteit soos donker depressie of selfs selfdood. Hierdie leser dink eweneens aan Eileen Simpson se memoir Poets in their Youth.

Haar herinneringe aan figure soos John Berryman, Delmore Schwartz en Robert Lowell, onder andere, wys op die gebrokenheid van hierdie digters.

So lui Johann de Lange se vers oor Berryman:

 

Skielik skemer

 

– What happen then, Mr Bones?

– I had a most marvellous piece of luck. I died.

John Berryman

 

Hoe dikwels het jy nie deur jou kantoorvenster

na die brug gestaar nie. Gewonder of dit jou weg

kon vat. Soos Hart Crane oor die relings

van die ss. Orizaba & in sy vaar-

waters in. Hy het glo sterk & doelgerig wéggeswem,

sy skoene netjies op die dek.

 

Art Hitman, skryn-

werker op kampus het jou op die brugreling sien sit,

met ’n streep weg & teen die grein,

voor jy sonder terugkyk vooroor gekantel het

om buite sig skipbreuk te ly, die grys beton te vlek.

Uitgeken net aan jou bril & ’n blanko tjek.

 

Jou laaste gedig is sonder slot: ’n eerste weergawe

van jou dood wat jy op jou lessenaar vir Kate wou los

om te lees. Ten slotte trek jy ’n laag-

waterlyn daardeur & smyt dit in die snippermandjie vir Kate

om op af te kom. Maar toe was jy al oor die muur

& water onder die brug. Vaarwel, my effens bevlekte held.

 

*

 

Nou die gedigte van Merini.

So klink “Die siel (L’anima)”:

 

Ek is van groen weivelde

en van vuurvliegies in die nag gemaak.

Maar een of ander volwasse kind

het die kriek, die vuurvliegie

en die sonbesie

in my weggeneem.

Sommige valse digters

sluit die vermaerdes in ‘n vuis

van nuuskierigheid toe

en weet nie dat selfs in ‘n kriek

‘n siel kan lewe nie.

(103)

 

Met die kennis van haar geestestoestand word dit ‘n wrang en pynlike aanklag. Een van misverstand.

Hierdie volgende gedig is eweneens tersaaklik:

 

My siel wat vlerke kry

is eintlik net ‘n ruspe.

Om te vergeet is minder pynlik

as hierdie versluierde herinnering.

En as jy vlinder word

dink niemand meer

aan wat jy vroeër was

toe jy teen die grond aangewurm het

en geen vlerke wou hê nie.

(75)

 

Ook hierdie vers spreek dit aan:

Elke digter

sal in die nag

sy gedagtes suiwer

en baie briewe daarmee skryf,

onduidelik,

om aan ‘n geliefde

sonder naam te stuur.

(125)

 

III

Die leser kan telkens die Italiaanse gedig met die vertalings vergelyk.

Dis moeilik om ‘n gedig uit ‘n Romaanse taal na Afrikaans oor te dra. Die dubbele negatief, die komplekse sintaksis, verskillende metriese- en klankpatrone, ensomeer. Jare gelede het die uwe ‘n kortkursus in Latyn vir letterkunde-studente bygewoon en ons moes Catullus vertaal. ‘n Uiters ingewikkelde, dog lonende oefening onder leiding van wyle Suretha Bruwer aan die US.

Hier was ons gekonfronteer met komplekse patrone.

Dalk makliker om ‘n gedig uit die Germaanse tale te vertaal? Of dalk nie, juis omdat Nederlands of Vlaams so na aan Afrikaans staan?

Kom ons kyk na ‘n vers wat die paradoks hanteer:

 

My siel wat vlerke kry

is eintlik net ‘n ruspe.

Om te vergeet is minder pynlik

as hierdie versluierde herinnering.

En as jy vlinder word

dink niemand meer

aan wat jy vroeër was

toe jy teen die grond aangewurm het

en geen vlerke wou hê nie.

(75)

 

Die begin:

 

Anima mia che metti le ali

en die slot:

en non volevi le ali.

 

Daardie knyptang gaan verlore in die vertaling.

Bepaald nie die vertaler se fout nie. Gewoon net hoé ingewikkeld die Italiaans werk.

Dieselfde geld die vertalings van Pablo Neruda in ander tale waar verskillende weergawes hierdie problematiek uitwys. Of D.M. Thomas se vertalings uit Russies.

Uys Krige kon Portugees, Frans, Spaans puik vertaal en oordra van een taal na ‘n ander. N.P. van Wyk Louw het Latyn geken en W.E.G. Louw kon ook Italiaans en Frans praat soos Rosa Nepgen, sy vrou.

In 1993 het Gus Ferguson van Snailpress Uys Krige se vertaling van Jacques Prévert se Franse gedig “Song of the snails who went to a funeral”, oftewel: “Chanson des escargots qui vont a l’eterrement” gepubliseer:

 

Na die begrafnis van ’n blaar

kruip twee slakke voort

met lanfer om hul horings

en swart skulpe soos dit hoort.

Hulle sluip deur die skemering

van ’n mooi-herfsdag.

Kom hulle daar aan, helaas,

is’t lente wat om hulle lag.

Al die blare wat dood was,

is die ene kleur en geur;

hulle stel die twee slakke

diep teleur.

(…)

https://www.litnet.co.za/uys-krige-1910-1987/  Besoek 22 November 2022

 

https://bagoas.livejournal.com/6776.html Besoek 22 November 2022

 

Oor vertaalpraktyk het die uwe uitgebreid geskryf:

 

Vertalings is verraaiers, lui die bekende dictum.

Tog kan ons nie bestaan sonder vertalings nie. Hierdie outeur se perspektief is as digter wat soms verse self vertaal en voor moeilike kwessies te staan kom. Louis Eksteen se Sinoniem-woordeboek (J.L. van Schaik, 1981) gee sinonieme en antonieme vir die leser. Dikwels vind ons ook via ander tale (soos Frans, Duits of Italiaans) ‘n oplossing. ‘n Goeie vertaling bring iets by en bekoor ook in die nuwe taal.

https://versindaba.co.za/2022/08/28/joan-hambidge-vertaling/ Besoek 22 November 2022

 

In al die jare as dosent in kreatiewe skryfwerk studente vertalings laat doen van bekende gedigte. Om net te sien wat verlore gaan of gewin word in die vertaalproses.

En dit wat verlore gaan, het Robert Frost gewaarsku, is die ware gedig.

Robert Pinsky se vertaling van Dante se Inferno (1996) bly ‘n hoogtepunt in die hande van ‘n meesterdigter.

 

IV

Die uitgewer en die vertaler het met hierdie bundel vir ons ‘n belangrike bundel gegee. Vir nadink oor die ellende van digterwees én vertalingsproblematiek.

Inderdaad is hierdie digter “La donna del picche” … (oftewel die vrou van Skoppens …)

 

Bronne:

Eco, Umberto. 2004.  Mouse or Rat? Translation as Negotiation. Londen: Weidenfield & Nicholson (Orion).

–1979. The Role of the Reader. Londen: Hutchinson.

Kristeva, Julia. 1987 / 1992. Black Sun. New York: Columbia University Press.

Hamilton, Ian. 1982. Robert Lowell – a biography. Londen: Faber & Faber.

Pinsky, Robert. 1996. Inferno. New York: Farrar, Straus & Giroux.

Simpson, Eileen. 1982. Poets in their Youth. New York: Farrar, Straus & Giroux.

Endnote:

1.Eugenio Montale – vertaal deur Rosa Nepgen

 

Die suurlemoene

Luister na my, julle bekroonde poëte,
julle wat alleen beweeg tussen plante
met minder gewone name: ligusterbosse of akante;
ek, ék verkies om te dwaal in die lang gras op paaie
diep tussen halfdroë spruite,
in modderpoele opgedam langs die paaie,
waar seuns soms ‘n skraal paling vang;
paadjies wat sak van bo by die randsome
tot onder waar die rietbos se pluimsaad staan,
en in die groentetuin uitloop by die suurlemoenbome.

Dis beter dat die voëls se astrante lawaai
in die asuur verswelg word en daar uitwaai;
dan hoor ‘n mens weer die sagte gesug
van vriendelike takke in ‘n luggie wat hulle skaars laat swaai,
en die sinne word van ‘n geur bewus
wat nie van die aarde kan loskom nie.
Dis ‘n wonder wat die hartstog keer,
die woede van oorloë kan afweer,
en ook ons wat behoeftig is, laat deel aan die rykdom
van die geur van suurlemoenbome.

Want in stiltes soos dié word alles verklaar,
begin dit beweeg na ‘n oorgawe toe
waarin dinge hul diepste geheime gaan openbaar,
en ‘n mens verwag jy gaan ontdek
hoe die natuur fouteer, waar die dooiepunt
van die wêreld lê
, die skakel sit wat nie hou nie,
en hoe om die knoop te ontwar en eind’lik die draad te vind
wat na die hart van die waarheid lei.
Die oog ondersoek en beskou,
die gees wat vors, verbind en skei
in ‘n geur wat ver versprei
wanneer die lig van die dag verflou.
dis in hierdie stiltes dat aan ons,
met elke menslike skim wat afskeid neem,
die een of ander verstoorde godheid verskyn.

Maar illusies verdwyn en die tyd voer ons terug
na die stadsrumoer; dáár wys die blou van die hemel
soos klein lappies kleur tussen skoorsteen en gewel.
Die aarde word tam van die reën; die koue verveling
van die winter drup die huise vol; waar die lig –
nou ook ‘n bitter gees – ál suiniger binnedring.
Dan, op ‘n dag, hang daar ‘n vergete tuindeur oop,
en op die bome in die binneplaas
sien ‘n mens die geel van suurlemoene skyn;
oorrompel, ontdooi die hart
en die gemoed loop vol
van dié helder getuit
en die son se goue trompetgeskal.

1921

 

*

Langs die meer

 

Die visvalkie
pyl reguit af op ‘n terracotta-vaas –
een van die baie op ‘n muurtjie langs die meer.
Tussen angeliere byna weggesteek, was hy
net ‘n oomblik sigbaar genoeg
vir ‘n kort gesprek.
Jy is, sê ek, die laaste voorbeeld van ‘n soort
wat volgens my al moes uitgesterf het.
Maar die oorgrote meerderheid van julle, sê hy,
sal ééndag getref word deur presies dieselfde lot.
Nou weet ek, het ek teengekap, mens is òf te veel òf niks nie.
Met die één voorreg, sê die valkie toe, wat julle sal hê,
om getuies te wees van die finale ballet aan die slot.
Maar ten minste, vat ek hom toe vas, is ruimte en tyd,
die begin en die end, geen menslike vinding nie;
en met jou bek het jy gehelp om die Al op te vreet.
Dag, man; dag, valk, vergeet maar van jou vis.
En jy het vergeet dat jy sonder vlerke en ‘n bek
‘n dwergie en ‘n klerehanger is.
Toe verdwyn die niksnuts
in ‘n stralekrans van roeskleur en pers.

 

17 Januarie 1977

 

(Uit: Die geel van suurlemoene skyn deur Eugenio Montale: Tafelberg, 1979)

 

https://versindaba.co.za/tag/rosa-nepgen/ Besoek 20 November 2022

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Hoe lees ons? XIII
Joan Hambidge. Hoe lees ons? XIV →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Koos de Wet. vóór die smelting
  • Digtersprofiel: Gert Vlok Nel
  • Meyer van Rensburg. Spieëlkamer
  • Margaret Cordier-Biermann. Verlossing
  • Wynand J Booysen. koue afgrond

Nuutste kommentaar

  1. Miel Vanstreels on Miel Vanstreels. Voorlopig1 August 2026

    Dankie, Marieta

  2. Conrad on Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)30 July 2026

    Goeie middag ek is n koorleier van die VGK Kerk Kraaifontein en is op soek na die SATB Blad musiek…

  3. Marieta McGrath on Miel Vanstreels. Voorlopig30 July 2026

    Stout gedig! Baie snaaks!

  4. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Plaagbeheer28 July 2026

    Ja, hoe beheer ‘n mens die plaag waarvan in die slotreël gewag gemaak word …?

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d