I
Ellie Ragland bespreek in Essays on the pleasures of death. From Freud to Lacan (1995) die retorika van die onbewuste wat volgens Lacan duidelike matematiese verbintenisse aangaan. In die afdeling “The paternal metaphor” wys Ragland op die ingewikkelde formasie van die verbeelde, simboliese en reële vlakke.
Freud se Ichspaltung word by Lacan die gesplete ego. Die Ich is vir Lacan die je/moi parlêtre en die Freudiaanse es word die ça by Lacan. Die objet a is die oorsaak van die begeerte waarvan sowel die funksie as die oorsaak volledig onbewus en dus on-bekend is. Soos Ragland tereg argumenteer: “The moi symbolizes the uniqueness of each person’s narcissism (or identity). And even though the person is unaware of the fictional (identificatory and linguistic) nature of his own ‘personality’ composition, the relation of ‘being’ (or unbeing) to the ça or jouissance is palpable” (1995:7).
Sy argumenteer ook in die afdeling “The paternal metaphor” dat gender-identiteit mites noodsaaklik is vir die sosiale rolle in ons seksuele maskerade. Ook word normatiewe maskerade oopgemaak (“unveiled”) sodat die effek van die Oedipale struktuur openbaar word. Begeerte is gestruktureer in Lacaniaanse terme.
Die verbintenis tussen die analis / analisant is kompleks en hierdie rolle word voortdurend omgeruil.
Met taal betree die kind die domein van gespletenheid. Taal word aangeleer juis deur die drie samehangende, dog nie-ooreenstemmende vlakke: Klanke wat geassosieer word met woorde en ‘n eienaam (die simboliese vlak); identifikasies wat die liggaam konstitueer (die verbeelde vlak); en die gevolg van verlies in die mate wat dit ‘n merk laat op die biologiese organisme (die reële vlak).
“The libidinal qualities”, skryf Ragland verder op bladsy 182,” produced by the gaze, the voice, and so on, are repressed as ‘objects’ that give rise to unary signifiers marked by a primary jouissance – an attachment to reminiscences of oneness. These signifiers bind the outer world to a seemingly ‘inner’ void in one single stroke”.
Lacan verduidelik die taal van die onredelike of die irrasionele. Hy karteer by uitstek die struktuur van die onbewuste.
Die naam van die vader (nom du père) is in hierdie gedig belangrik: die dooie letters van die simboliese vader (Ragland: 215).
Ragland skryf:
Lacan found this figure important in his efforts to redirect thinking about the Freudian unconscious toward the idea of a real hole in being and body that places space both inside and outside a person, collapsing inside and outside into an extimate object a that is the subject. That is, the void in language, being, and body forms a torus where inside and outside define two voids – an internal and external one – that points to something real in form itself” (1995, p. 199).
Dit wat ons dan waarneem as ‘n sirkel of gat word veroorsaak deur ‘n ab-sens wat bepalend is.
Reeds in die Seminar I verduidelik Lacan die belang van die oog om gereduseer te word tot die gaze.” (Ragland, 203).
II
Vervolgens volgende gedig van Johann de Lange:
Terapie
Ek kyk uit op die tuin.
Die reën slink alles
soos tyd herinnerings.
‘n Helder druppel teen
die ruit. Bewegingloos.
‘n Omheinde libido.
lemand by die tuinhek.
‘n Gesig kristalliseer.
Met die klop onthou ek.
Die druppel vloei
selfvernietigend
tot sy bedroë einde.
Terapie
Ek kyk uit op die tuin.
Die reën slink alles
soos tyd herinnerings.
Die ek kyk deur die wasige ruit waar herinneringe na vore kom uit die verlede.
‘n Helder druppel teen
die ruit. Bewegingloos.
‘n Omheinde libido.
‘n Helder druppel is bewegingloos en word ‘n omheinde libido.
lemand by die tuinhek.
‘n Gesig kristalliseer.
Met die klop onthou ek.
Is dit ‘n werklike of verbeelde iemand by die tuinhek wat klop? Of is dit herinneringe aan die vader?
Die druppel vloei
selfvernietigend
tot sy bedroë einde.
Die druppel vloei selfvernietigend – wat die dood van die digter se vader aktiveer vir hierdie leser.
Die vaderfiguur – die vertrekkende vader – loop regdeur die digter se diguns.
In Snel grys fantoom staan hierdie vers:
As liefde ons verkeerd bewys
As liefde ons verkeerd bewys
en die nag in ons holtes kom lê,
en die dood ons laaste hegsels
losknip uit die lewe se patroon
sodat ons saam is, ongeheg,
asof om te sê ons liefde ken
nog duur nog vordering, sal ons
weet die dood is tydloos soos plesier,
en ons is net somerweerlig,
‘n aprillende gier, net lewe
vir sy dood, voorbrand vir sy vuur.
Die dood (thanatos in Freud se terme) is tydloos soos plesier; daardie plesier waarna Ellie Ragland verwys. Die liefdesvers is hier eerder ‘n soeke na die liefde van die versaakte vader.
In Die algebra van nood skryf die digter:
Van al die woorde wat ek het
Van al die woorde wat ek het
is dood onweerlegbaar
dood, ’n woord wat welig
náwerk in die brein:
vir oulaas stryk ons
die beduimelde gesig
& stuit teen wat verganklik was
maar nou raar & onoorganklik bly.
Daardie gedig by die voorhek in “Terapie” word nou ‘n beduimelde gesig. Beduimel soos in vuil …
Die verskillende verse aktiveer die afwesige vader, die woord wat náwerk in die brein. Juis omdat die digter nie werklike impak van die vader kan verstaan of verwoord nie, keer dit telkemale terug in sy gedigte.
Onweerlegbaar: dit wat nie betwyfel kan word word nie.
Onbetwisbaar, onteenseglik so.
Hierom is die libido omhein en pynlik. Danksy die vader wat die kind versaak en met letsels gelaat het.
Hierom is alles dan onoorganlik.
Joan Hambidge
November 2022
Bronne:
De Lange, Johann. 1982. Akwarelle van die dors. Kaapstad: Human & Rousseau.
–2009. Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.
–1986. Snel grys fantoom. Kaapstad: Human & Rousseau.
Hambidge, Joan. 2000. Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde: ‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk. Phd. UCT.
Lacan, Jacques. 1966/1977. Écrits – a selection. Vertaal deur Alan Sheridan. Londen: Tavistock.
– 1988. “The insistence of the letter in the unconscious” in David Lodge(red.): Modern criticism and theory – a reader. Londen: Longman.
–1973/1977. The four fundamental concepts of psycho-analysis. Vertaal deur Alan Sheridan. Londen: Penguin.
Ragland, Ellie. 1995. Essays on the pleasures of death. From Freud to Lacan. New York: Routledge.
Endnote:
- Die vaderfiguur kon telkemale na vore in die digter se oeuvre. So dig hy in Snel grys fantoom.
Pa
Whether you are pretty or not, I outlive you,
bend down my strange face to yours and forgive you.
Anne Sexton
Ander miskien nie maar ek onthou
dat jy ‘n bouer was
met groot hande wat steen
op steen kon pas,
so sekuur was in wat jy doen
en tog tuis alles kon verbrou.
Maar ek vergewe jou.
Die hart hou sy eie almanak.
Stene kon jy beter as woorde vat:
skielik was daar ‘n wolkekrabber,
‘n padkafeetjie langs die pad;
kon lugkastele bou, na cowboy-flieks gaan kyk,
of vuurhoutjiepatrone op my Bybel plak.
Maar ek vergewe jou.
Ander aande het jy mandrax gedrink
en vroeg gaan slaap, moeg,
die woonstel onherbergsaam gemaak
met jou hortende asem. Die kroeg,
enklave waar jy kon ophou kwel,
het sy grys vergetelheid geskink.
Maar ek vergewe jou.
Ek het soveel van jou liefde verwag,
asof dit sement was
wat ons almal bymekaar moes hou.
Ons kon nooit juis waterpas
oor sake sien nie:
ek was haaks en jy was veels te sag.
Maar ek vergewe jou.
Hoe gaan ek daardie trotse onbegrip
ooit weer agterhaal, die gebroke huis weer heel?
My dapper swye verbreek ek nou,
en mag die onvolkome stene my nie faal.
Onbeholpe cowboy van my jeug,
jou naam bly leef in klip.
Ander miskien nie maar ek onthou.
*7 April 1936 – 16 Mei 1975
http://joanhambidge.blogspot.com/2013/02/studie-nagsweet-en-die-aanwesige.html
Besoek 24 November 2022
